Brandbestryders het die erkenning vir hul moeilike werk verlede Dinsdag opreg waardeer.

Brandbestryders vereer


Nie alle helde dra kappietoppe nie – dit was die boodskap by CapeNature se waarderingsgeleentheid vir brandbestryders, veldwagters en rolspelers verlede Dinsdag (4 Augustus).

Die geleentheid het hulde gebring aan die manne en vroue wat gedurende een van die Wes-Kaap se moeilikste brandseisoene aan die voorpunt gestaan het om gemeenskappe, infrastruktuur en die provinsie se unieke biodiversiteit te beskerm.

Erkenning is ook gegee aan Internasionale Brandbestrydersdag en Wêreldveldwagterdag. Plaaslike munisipaliteite, die Stad Kaapstad, die provinsiale rampbestuursentrum, Working on Fire, brandbeskermingsverenigings, vrywilligers en private grondeienaars is vir hul bydraes bedank.

Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, het gesê brandbestryding is een van die mees veeleisende beroepe denkbaar.

“Ons moet ook die families onthou wat hierdie brandbestryders ondersteun. Hulle dra dikwels saam die las van lang afwesighede en die onsekerheid wanneer hul geliefdes in gevaarlike omstandighede werk,” het hy gesê.

CapeNature se hoof, dr. Ashley Naidoo, het beklemtoon dat waardering nooit afgeskeep moet word nie.

“Moet nooit vergeet om mekaar te waardeer nie. Waardeer jou kollegas en elke rolspeler wat deel vorm van die groter prentjie om brande te beheer,” het hy gesê.

Volgens Naidoo neem veldbrande toe, terwyl die gemiddelde oppervlakte wat per brand oor die afgelope 20 jaar afbrand, meer as verdubbel het.

CapeNature het dié seisoen op 107 veldbrandvoorvalle gereageer, waartydens 215 936 hektaar afgebrand het.

Die Cederberg-wildernisgebied alleen het sowat 53 310 hektaar verloor.

Die brandbestryder Ethan le Fleur, wat sy eerste diensjaar gevier het, het gesê die werk is fisiek en emosioneel veel- eisend, maar dat brandbestryders se passie vir mense en die natuur hulle dryf om aan te hou.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 13 August 2026
    Weslander E-Edition – 13 August 2026

Gift this article