Elke jaar op 12 Mei is dit Internasionale Verpleegstersdag omdat die bekende verpleegster, Florence Nightingale (gebore 12 Mei 1820), op dié dag verjaar het.
Sy was ‘n rykmansdogter wat eerder besluit het om ‘n nederige bestaan te voer en as verpleegster siekes uit alle oorde by te staan.
Sy het ‘n ikoon en simbool van verpleegkunde geword en bekend gestaan as “The Lady with the Lamp”.
Ek wil dus deur middel van die media die duisende verpleegkundiges wat in dié besondere beroep diens van onskatbare waarde lewer, bedank.
Dit is altyd ‘n voorreg om na julle te kan uitreik, vreugde en hartseer te deel, maar ook te weet dat dié wat vrylik gee, mildelik sal ontvang. ‘n Verpleegkundige het net die slag om sonskyn te bring met dit wat hulle doen of sê.
Baie dankie vir alles wat die verpleegkundiges vir pasiënte beteken. Dit word baie waardeer. ‘n Jaar vol voorspoed en sukses word die verpleegkundiges toegewens. HJ Gerber




