Swaar reën en sterk wind het sy opwagting in die Weskus gemaak, net soos in die res van die Wes-Kaap.
Ten spyte van moeilike weerstoestande het munisipale werkers van die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) en Bergrivier-munisipaliteit (BM) dag en nag gespook om strate skoon te maak, ontwortelde bome te verwyder en infrastruktuur te herstel.

Spanne van verskeie afdelings het saamgewerk om seker te maak dat inwoners so vinnig moontlik weer toegang tot noodsaaklike dienste kry.
In die Saldanhabaai-munisipale area is daar nie baie oorstromings en vloede aangemeld nie, maar wel voorvalle van ontwortelde bome en elektriese pale wat omgeval het.
Volgens Ethne Lawrence, SBM-woordvoerder, is altesaam 71 sandsakke versprei om residensiële dakke teen omgewaaide strukture of strukturele skade te beskerm ná verifikasie van noodsaaklikheid by elke terrein.
Matthew Sheldon, BM-woordvoerder, sê spanne het deurentyd gewerk om die veiligheid van inwoners en die herstel van kritieke infrastruktuur te verseker.

“Die gesamentlike operasiesentrum het binne 48 uur 80 klagtes aangeteken en daarop gereageer, wat onmiddellike munisipale ingryping vereis het.”
Sheldon meen die klagtes wat ontvang is, het gewissel van oorstromings en elektriese foute tot die verwydering van ontwortelde bome en skade aan infrastruktuur.

Daar was ook baie gevalle waar ramppersoneel met sandsakke moes help om te verhoed dat huise verder oorstroom.
“Munisipale noodpersoneel bly op ‘n hoë gereedheidsgrondslag en sal voortgaan om geïdentifiseerde brandpuntgebiede te monitor. Hulle is gereed om te reageer op enige situasie wat ‘n bedreiging vir motoriste, infrastruktuur en die veiligheid van inwoners kan inhou,” sê Sheldon.






