Die Demokratiese Alliansie (DA) het die meeste stemme in die plaaslike regeringsverkiesing in Saldanhabaai gekry, maar het nie genoeg setels verower om die munisipaliteit alleen te beheer nie. Die party sal dus met minstens een ander party moet saamwerk om ‘n meerderheid in die nuwe stadsraad te verseker.
Die DA het volgens die voorlopige setelberekening 15 van die 31 setels in die Saldanhabaai- munisipale raad verower. ‘n Meerderheid vereis minstens 16 setels. Dit beteken die DA is een setel kort van ‘n volstrekte meerderheid en sal nou na moontlike koalisievennote moet kyk.
Die Patriotic Alliance (PA) het sy posisie aansienlik versterk en is met ses setels die tweede grootste party in die raad. Die ANC het vier setels, terwyl die VF+ twee setels het. GOOD, die EFF, MK en die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) het elk een setel.
Hoewel die PA ‘n belangrike rol in die onderhandelings kan speel, hoef die DA nie noodwendig met dié party saam te werk om ‘n meerderheid te vorm nie. Die DA en VF+ het saam 17 setels, wat hulle reeds ‘n meerderheid van twee gee. ‘n Ooreenkoms met enige een van die kleiner partye, naamlik GOOD, die EFF, MK of die SAKP, kan ook die DA se totaal op die vereiste 16 te staan bring.
Die berekening is gebaseer op die ver- kiesingsuitslae en is ‘n aanduiding van die moontlike samestelling van die raad, nie die amptelik gesertifiseerde seteltoekenning nie.
Die uitslag beteken dat die DA, ondanks sy posisie as grootste party, nie vanselfsprekend beheer oor die munisipaliteit sal hê nie. Die uiteindelike beheer sal afhang van die ooreenkomste wat partye bereik en hul vermoë om genoeg steun in die raad te verseker.
Wanneer moet die nuwe raad sitting hou?
Die proses word deur artikel 29(2) van die Wet op Munisipale Strukture (Wet 117 van 1998) gereël. Die munisipale bestuurder moet die eerste vergadering van die nuutverkose raad binne 14 dae nadat die raad amptelik as verkies verklaar is, belê.
Dit is belangrik om te onderskei tussen die sperdatum vir die eerste raadsvergadering en die onderhandelings oor ‘n koalisie. Daar is nie ‘n afsonderlike wetlike sperdatum waarteen partye ‘n koalisie-ooreenkoms moet sluit nie. Die eerste vergadering moet egter binne die voorgeskrewe tydperk plaasvind, selfs al is onderhandelings nog aan die gang. Dit is op hierdie vergadering dat die raadslede onder meer ‘n speaker en burgemeester verkies.
Die PA se groei is een van die belangrikste ontwikkelings in die verkiesing. Die party se steun in Saldanhabaai het van 4,2% in 2021 tot 19,7% vanjaar gestyg. Die DA se steun het ook toegeneem, van 47% tot 49,5%, maar dit was nie genoeg om ‘n meerderheid te verseker nie. Die eerste raadsvergadering sal dus bepalend wees vir wie die munisipaliteit gaan bestuur. Die party wat die meeste setels het, kry nie outomaties die burgemeesterspos nie. Dit is die raadslede wat op die vergadering die speaker en burgemeester verkies. ‘n Ander kombinasie van partye kan dus ook daarin slaag om die nodige steun te kry om die munisipaliteit te beheer.
Die OVK het die verkiesingsuitslae op Sondag 8 November amptelik verklaar. Dit beteken die Saldanhabaai-munisipaliteit se eerste raadsvergadering moet ingevolge die huidige wetgewing teen 22 November plaasvind. Die sperdatum geld vir die byeenroep van die eerste vergadering, nie vir die sluiting van ‘n formele koalisie-ooreenkoms nie.
LEES OOK: VERKIESING 2026 | Kandidate sit hul planne vir Saldanhabaai uiteen



