Letitia Van Zyl-Schultz
SALDANHA – Internasionale Brandbestrydersdag, wat wêreldwyd elke jaar op 4 Mei gevier word, is verlede Donderdag (15 Mei) op ‘n betekenisvolle wyse deur die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) se openbare-veiligheidsafdeling herdenk.
Brandbestryders, die polisiediens en mediese reddingspersoneel het by die sentrale brandweerstasie in Saldanha bymekaargekom vir ‘n spesiale rooi-
tapyt-herdenkingsgeleentheid wat gesentreer het rondom ‘n onlangs opgerigte gedenkkruis ter ere van diegene wat hul lewens in brande verloor het.
Die geleentheid het hulde gebring aan brandbestryders en noodpersoneel, en families vereer wat geliefdes gedurende 2025 in brande verloor het en as spesiale gaste teenwoordig was.
Mario Jacobs, SBM se senior bestuur-
der van openbare veiligheid, het as programdirekteur opgetree. Hy het die gaste verwelkom en sy dankbaarheid teenoor SBM se openbare-veiligheidslede en sy meegevoel teenoor bedroefde families uitgespreek.
Pastoor Errol O’Neill het die seremonie met ‘n skriflesing uit Psalm 46 geopen: “God is ons toevlug en sterkte, ‘n hulp in benoudhede, altyd gevind.”
O’Neill het ‘n vergelyking getref tussen brandbestryders en die Bybelse Dawid wat Goliat in die gesig staar. Hy het brandbestryding beskryf as ‘n roeping wat moed, gespesialiseerde vaardighede en onwrikbare toewyding vereis om jouself gewillig in gevaar te stel om ander te red, selfs wanneer die kanse teen jou oorweldigend is.
Hy het brandbestryders aangemoedig om standvastig te bly in hul roeping en te onthou dat God hul toevlug en sterkte bly.
Hy het ook sy innige meegevoel betuig met families wat geliefdes in brande verloor het.
“Alhoewel ons dalk nie die antwoorde of die woorde het om te sê nie, weet dat die Here naby die gebrokenes van hart is,” het hy gesê.
Gaste het daarna opgestaan vir die sing van die volkslied.
Die brandweerhoof, Ann Supra-Vertue, het emosioneel geraak toe sy die aanwesiges toegespreek en teruggedink het aan die gedenkkruis wat onlangs by die stasie opgerig is.
“Die gedenkkruis is ‘n visie wat ek gehad het, veral nadat SBM in 2025 reeds 22 lewens weens brande verloor het. Vandag is ‘n plegtige en betekenisvolle geleentheid om te besin, te erken en die lewens te onthou wat verlore gegaan het, asook om brandbestryders te vereer wat die hoogste opoffering gemaak het,” het sy gesê.
Sy het brandbestryders en SBM-openbare-veiligheidsbeamptes aangemoedig om standvastig te bly in hul toewyding en hul edele diens met trots, integriteit, eer en toewyding voort te sit.
Ettienne du Toit, adjunkdirekteur van die Wes-Kaapse provinsiale rampbestuur en brandreddingsdienste, het kommerwekkende brandstatistieke uitgelig en opgemerk dat forensiese navorsing aandui dat die Wes-Kaap ‘n brandrisikogradering van 7.8 het, wat beteken dat byna agt mense per 100 000 in brande omkom.
Hy het van die voorkomende inisiatiewe wat deur die plaaslike regering ingestel is, gedeel, insluitend die instal- lering van rookalarms in hoërisikogebiede, en het gemeenskappe aangespoor om bewustheid rondom brandgevare te verhoog.
‘n Diep emosionele oomblik het gevolg toe alle brandweerdienslede saam die Brandbestrydersgebed opgesê het.
Die name van diegene wat vereer word, is hardop voorgelees, waarna
familielede blomme by die krans langs die gedenkkruis neergelê het.
In ooreenstemming met brandbestrydingstradisie het die seremoniële lui van die klok, wat die laaste oproep simboliseer vir diegene wat in vrede rus, die huldeblyk afgesluit.
SBM se direkteur van korporatiewe dienste en openbare veiligheid, Phumzile Mbaliswana, het sy waardering uitgespreek teenoor SBM se burgemeester, Marius Koen, vir sy rol in die ontwikkeling van die brandweerstasie.
Hy het alle SBM-openbare-veiligheids- amptenare geprys en hulle aangemoedig om voort te gaan om sterk vennootskappe binne die gemeenskap te bou.
“Moed is nie die afwesigheid van vrees nie, maar die krag om voort te gaan om te dien,” het hy gesê voordat hy Koen genooi het om die byeenkoms toe te spreek.
Koen het gesê daar is oomblikke in die lewe wanneer woorde nie genoeg is nie en het beklemtoon dat diegene wat hul lewens verloor het nooit vergeet sal word nie.
“Die brandweerstasie is meer as ‘n gebou; dit is ‘n simbool van diens, opoffering, moed en plig,” het hy gesê.
“Mense sien die ligte en hoor die sirenes, maar hulle beleef nie die emosies van die amptenaar wat na ‘n toneel haas in die uitvoering van sy pligte nie.”
Hy het bygevoeg dat die gedenkkruis as ‘n permanente baken van herinnering sal staan, en simboliseer dat elke lewe saak maak en nie vergeet sal word nie.
Die herdenkingsgeleentheid is afgesluit met slotopmerkings deur die SBM-burgemeesterskomiteelid Sinha Mamabolo.
Mamabolo het alle deelnemers bedank en spesiale hulde gebring aan die hoofbrandweerbeampte, Supra-Vertue, vir die verwesenliking van haar visie van herdenking, terwyl sy ook al die brandbestryders vir hul eervolle diens geprys het.







