Die Weskus het die afgelope naweek behoorlik lente gevier toe Paternoster se strate gevul is met die geure van wyn, kos en veldblomme tydens die vierde jaarlikse Blomme en Bubbles-fees. Die fees, wat van Vrydag 4 tot Sondag 6 September plaasgevind het, het meer as 30 wynkelders, plaaslike restaurante, kunstenaars en winkels bymekaargebring vir ‘n unieke wyntoer deur die skilderagtige kusdorpie.

Feesgangers met ‘n feespas kon onbeperkte wynproeë op verskeie plekke oor die dorp heen geniet, terwyl bonus-uitdagings en stempelkaarte deelnemers die geleentheid gebied het om in die proses pryse te wen.
Besoekers kon vars seekos en ander plaaslike geregte geniet, kunsuitstallings besoek, blommekranse maak en na lewendige musiek luister.
Die fees het Paternoster se restaurante, winkels en ander ondernemings deel van die ervaring gemaak, met besoekers wat die dorp op ‘n feestelike wyse kon verken. Die fees het weer eens gewys hoe almal kan saamwerk.





