Kelly Smith (33), wat teregstaan op aanklagte wat daarop dui dat sy en drie ander mense moontlik haar dogter, Joshlin Smith (6), verkoop het, is weer swanger.
’n Vriendin van Kelly het dié gerug, wat al weke lank die ronde doen, aan Weslander bevestig. Sy het ook ’n driejarige dogter en ’n tienjarige seun wat tans in die sorg van familie en vriende is.
In weerwil van die gedurige skep van vals hoop dat Joshlin gekry is en die opsweep van gemoedere op sosiale media, het die polisie-ondersoekspan nog geen verdere inligting oor die ondersoek bekendgemaak nie.
Terwyl die aanklagte teen Kelly se buurvrou in die Middelpos- informele nedersetting verlede week laat vaar is, het ’n ander buurvrou Maandag 18 Maart in die Vredenburg-landdroshof op aanklagte van ontvoering en mensehandel verskyn.
Lorentia “Renze” Lombaard (32) se saak gaan by dié van Smith en die ander twee beskuldigdes, Boeta Appollis (31) en sy vriend Steveno van Rhyn (27), gevoeg word. Hulle sal al vier Woensdag 13 Mei weer in die hof verskyn.
Smith, Appollis en Van Rhyn het hul borgaansoeke laat vaar.
Lombaard kom weer Maandag 25 Maart voor om vir borgtog aansoek te doen.
Jacques van Zyl, die hoofaanklaer, het Maandag aangedui dat Renze ’n bekentenis afgelê het oor haar aandeel in Joshlin se verdwyning. Presies wat in die bekentenis gesê is, is nie aan die hof oorgedra nie.
Inwoners van Vinkstraat in die gebied in Louwville bekend as Noordkuil het Maandagmiddag die polisie laat kom nadat hulle vier verdagte mense ’n swaar swartsak na die veld oorkant die spoorlyn sien dra het.
Die inwoners het net ná 12:00 ’n wit motor, wat hulle nog nie voorheen daar gesien het nie, langs die spoorlyn sien stilhou. Twee mans – een met ’n blou hemp en een met ’n wit hemp – het uitgeklim en ’n swaar swartsak uitgehaal.
Die een man het die sak oor sy skouer gegooi en die ander een het dit van onder af help dra, so swaar was dit. Daar was ook twee vrouens by; een met ’n blou pet en een met ’n pienk hemp.
Die inwoners het hulle dopgehou tot by ’n groot bos anderkant die spoorlyn. Toe inwoners nadergegaan het om te vra wat hulle daar maak, het een van die mans hulle summier weggejaag, waarop hulle die polisie gebel het.
Met die polisie se aankoms het die vrou met die blou pet aangedui dat sy ’n sangoma is wat kom kruie uithaal het. Sy het eers ontken dat hulle ’n swartsak by hulle gehad het, maar later gesê daar was appels in. Hulle het egter geweier om te sê waar dit begrawe is.
Die inwoners het self op verskeie plekke begin grawe, maar volgens van die mense wat die vierstuks dopgehou het, het hulle op verkeerde plekke gegrawe.
Die twee mans en twee vroue is later toegelaat om na hul voertuig terug te keer. Hulle het vinnig weggery, gevolg deur die polisie, wat hulle aangesê het om polisiekantoor toe te ry.
Die gemeenskap was ontsteld omdat die polisie dit nie ernstig genoeg opgeneem het nie, en nie eens ’n snuffelhond uitgekry het om te kom help soek nie.
Die Vredenburg-polisie is genader vir kommentaar oor die voorval, maar het teen druktyd nog nie op die versoek reageer nie.





