‘n Optog is verlede Vrydag (5 Junie) in Paternoster gehou, as deel van ‘n plaaslike bewusmakingsveldtog vir Kinderbeskermingsweek wat van 29 Mei tot 6 Junie landwyd gevier is. Dit was daarop gemik om gemeenskappe se verbintenis tot kinderbeskerming te versterk.
Leerders van Hoopsig, ‘n bekende organisasie sonder winsoogmerk, en verteenwoordigers van die dorp se Yeboneers, die YEP-projek, die plaaslike polisie, die Saldanhabaai-munisipaliteit se verkeersdienste, die Vredenburg Gemeenskapspolisieëringsforum, munisipale wetstoepassers en brandweer- en reddingsdienste het saam met lede van die publiek hul ondersteuning met kleurvolle plakkate getoon.
Volgens Luanca Engelbrecht, die programkoördineerder van Hoopsig, is dié optog deel van Hoopsig se missie en verantwoordelikheid om ‘n veilige en ondersteunende ruimte vir die dorp se kinders te skep. Sy het beklemtoon dat Hoopsig ‘n geregistreerde nasorgprogram is, wat voldoen aan die mandaat van die departement van maatskaplike ontwikkeling (DSD).




