Die Albatrosse van St. Helena- baai het die afgelope Saterdag (30 Mei) geskiedenis gemaak toe hulle die onoorwonne Saldanha- baai met 25-23 in ‘n spannende Weskus Grootuitdaagbeker-kragmeting geklop het.
Die nederlaag was Saldanha se eerste van die seisoen en het gewys dat die Albatrosse weer ernstig in die titelwedloop is.
Saldanhabaai het vroeg beheer geneem toe Morné Alexander in die 10de minuut ná volgehoue druk gaan druk het. Craig van Rensburg het verdoel om die besoekers 7-0 voor te plaas.
Die Albatrosse het eers laat in die eerste helfte hul eerste punte aangete- ken met ‘n onverdoelde drie om die tel- ling 5-7 te maak. Saldanha het egter die druk goed hanteer en twee strafskoppe deur Van Rensburg het die rustydtelling op 13-5 te staan gebring.
Die tuisspan het die tweede helfte met nuwe energie begin en ‘n strafskop deur Dehlrin Coenraad het die agterstand tot 8-13 verklein.
Van Rensburg het kort daarna weer vir Saldanha punte aangeteken om hul voorsprong tot 16-8 te rek.
Die wedstryd het egter dramaties verander nadat Abduragmaan Latief met ‘n geelkaart van die veld gestuur is.
Die Albatrosse het die ekstra ruimte benut en met sterk samewerking tussen voor- en agterspelers twee goeie drieë gedruk om die voortou oor te neem.
Nog ‘n strafskop het die telling tot 25-16 in die tuisspan se guns geneem.
Saldanhabaai het in die laaste minute alles probeer om terug te slaan. Samuel Greyling het ná goeie kombinasiespel gaan druk en Van Rensburg het verdoel om die telling op 25-23 te bring.
Ten spyte van ‘n sterk laaste aanslag kon Saldanha nie weer oor die doellyn gaan nie en moes tevrede met net ‘n bonuspunt uit die wedstryd wees.
Met die oorwinning het die Albatrosse nie net Saldanha se onoorwonne status beëindig nie, maar ook hulself weer as ernstige aanspraakmakers in die kompetisie aangekondig.




