Met swaar reën en modderige paaie is inwoners van Hopefield steeds ontsteld oor die toestand van sekere paaie.
‘n Inwoner het met Weslander gedeel dat daar al verskeie kere met die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) gekommunikeer is, maar niks word daaromtrent gedoen nie.
Een van die probleempaaie sluit Kerkstraat in.
Thessa Joubert, ‘n inwoner van die dorp, het vantevore met Weslander gedeel dat daar geen aandag geskenk word aan die paaie nie. Sy meen talle pleidooie met e-posse, oproepe en foto’s gerig aan die SBM val jare lank al op dowe ore.
“Daar was al vergaderings en beplanning, maar niks gebeur nie. In die somer is dit net sand en stof wat oor die huise trek en in die winter is dit ‘n slymerige en gladde moddergemors wat aan ‘n voertuig klou.
“As dit reën, hardloop die water van die pad se kant deur ons erf en deur die garage. Daar is al baie skade gely, maar steeds word net skouers opgetrek. Wat moet ons as inwoners doen om iets te laat gebeur?”
Tereza Burger, woordvoerder van SBM, sê die pad is drie weke gelede geskraap. Intussen het die munisipaliteit die stormwaterdreineringsprobleem ondersoek en tydelike oplossings geïmplementeer.
“Die genoemde straat is ‘n gruispad met ‘n lae verkeerslading. Die oppervlaktoestand word as redelik beskou, maar ongelukkig met ‘n baie lae padvlak en swak dreinering.
“Met verwysing na die bestaande korttermynoplossing, kan die munisipaliteit bevestig dat die skraapwerk en huidige instandhouding deel vorm van ‘n deurlopende, roetine-instandhoudingsprogram. Hierdie werk sal voortgaan soos beplan en volgens die bestaande rooster.”
Burger voeg by langtermynoplossings word oorweeg om die probleem meer doeltreffend en volhoubaar op te los.





