Van nederige begin tot 10 jaar se sukses: AR Jones Engineering vier vandeesmaand ‘n merkwaardige eerste dekade, ‘n reis wat met nederige omstandighede, harde werk en ‘n vasberade geloof in ‘n beter toekoms begin het.
Antonio Jones, die dryfkrag agter die maatskappy, se storie begin in Klawer, waar hy as die seun van ‘n enkelma grootgeword het. Sy het as huishoudelike werker en seisoenale plaaswerker gewerk om haar gesin te onderhou en hy het sy skoolloopbaan plaaslik voltooi en aan Vredendal Sekondêr maktrikuleer.
Hoewel hy ná skool universiteit toe wou gaan, het finansiële druk dit onmoontlik gemaak.
Hy kon dié droom egter in 2005 vervul en het self sy studies in chemiese ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch betaal. Hierdie vroeë uitdagings het die grondslag vir sy latere deursettingsvermoë gelê.
‘n Dapper begin en harde lesse
In 2016, te midde van onsekerheid by Saldanha Works, het Antonio saam met sy vrou, Sharon, ‘n lewensveranderende besluit geneem. “Die grootste motivering was die risiko van werksekerheid. As die maatskappy sou toemaak, sou ons al twee sonder werk sit.”
Met Sharon se ondersteuning het hy die sprong geneem en AR Jones Engineering begin – alleen, in sy motorhuis. “Dit was nie maklik nie. Een van die grootste uitdagings is om die mark te betree en mense te oortuig om jou dienste te gebruik. As mense jou nie ken nie, vertrou hulle jou nie.”
Hy onthou hoe moeilik dit was om die saak aan die gang te kry: “As ingenieur fokus jy net op die tegniese werk. Skielik moes ek ook ‘n verkoopsman wees. Ek onthou hoe moeilik dit was om daardie eerste ‘cold calls’ te maak en mense te vra om met my sake te doen.”
En die teleurstellings was werklik. “Jy berei die perfekte aanbieding voor, maar dan word jy oor en oor afgekeur. Maar jy hou aan. Jy moet.”
Bou aan die toekoms
Nou, 10 jaar later, bou AR Jones Engineering letterlik aan sy volgende hoofstuk. Die maatskappy is tans besig om sy eie 450 m²-werksruimte te ontwikkel – ‘n belangrike belegging in groei en volhoubaarheid.
“Ons belê in toerusting wat ons meer doeltreffend en meer volhoubaar maak,” sê Jones. “Byvoorbeeld, ‘n oorhoofse hyskraan beteken ons sal groter en swaarder projekte in die werkswinkel kan hanteer.”
Hy sê hierdie belegging sal nie net kapasiteit verhoog nie, maar ook langtermyn kostedoeltreffendheid verbeter.
“Dit gaan ons help om slimmer te werk en beter waarde aan ons kliënte te lewer.”
Nog ‘n kernfokus is vaardigheidsontwikkeling. “Ons beplan om saam met instellings te werk om vaardigheidsontwikkeling te bevorder. Ons wil nie net werk skep nie – ons wil mense toerus.”
‘n Hart vir die gemeenskap
Gemeenskapswerk lê Antonio na aan die hart. AR Jones Engineering ondersteun skole sedert 2017 deur pryse te borg vir leerders wat in wiskunde en fisiese wetenskap uitblink. “Vir my is dit persoonlik,” sê hy. “Onderwys het my lewe verander. In baie van ons gemeenskappe word kinders arm groot, maar met beter opleiding kan jy ‘n beter toekoms bou.”
Hy glo hierdie vakke is die sleutel tot geleenthede. “In ingenieurswese moet jy kan dink en somme doen. As ons kinders daarin kan ondersteun, gee ons hulle ‘n ware kans.”
Die maatskappy belê ook in vaardigheidsontwikkeling deur hul ARPL-program in samewerking met Merseta. “Ons help mense wat reeds die vaardigheid het, maar nie formele kwalifikasies nie, om as sweisers te kwalifiseer. Dis hoe jy mense en gemeenskappe ophef.”
Dankbaarheid en vorentoe kyk
“Ons het klein begin, maar groot gedroom,” sê Jones. “Om nou 10 jaar te vier, is ‘n groot voorreg.”
Hy sluit af met ‘n boodskap aan sy kliënte en gemeenskap: “Dankie dat julle in ons geglo het. Ons sien uit daarna om nog baie jare saam te bou.”
Wil jy met ‘n span werk wat gehalte en groei prioritiseer?
Kontak AR Jones Engineering vandag by arjones-engineering.com, info@arjones-engineering.com of 022 772 0198.







