Gebeure ná ‘n inbraak by ‘n plaaswerker se woonplek in die Citrusdal-omgewing het daartoe gelei dat die vermeende inbreker aan ‘n boom vasgebind is.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ‘n distrikswoordvoerder vir die Weskus- polisie, is ‘n klagte van huisbraak en diefstal op Maandag 13 April by die polisie aangemeld. Die klaer in die saak is ‘n 43-jarige plaaswerker van dieselfde plaas. Hy het spesifieke items gelys wat blykbaar later in die besit van die 15-jarige seun gekry is.
Die seun se ma het glo nie geweet hy sou die plaas besoek nie. Sy het Dinsdagoggend 14 April ‘n geskreeu gehoor en ondersoek ingestel, waarop sy haar seun agter ‘n chalet aan ‘n boom vasgebind gekry het. Hy was nie beseer nie.
Jacobus Marais (23) is in hegtenis geneem en het Donderdag 16 April in die landdroshof verskyn weens die beweerde vasbind van die seun aan ‘n boom.
Die Citrusdal-polisie ondersoek die sameloop van omstandighede wat tot die voorvalle gelei het.





