Weslander verskaf weekliks ‘n kort blik op die vorige week se misdaadgebeure in sy versprei-
dingsgebied met behulp van kapt. Tania Helfrich, distrikswoord-
voerder van die Weskus-polisie.
Hennelize Fredericks (38) van Noordhoek in Velddrif het voorverlede Vrydag (10 April) erken dat sy juweliersware van duisende rande uit ‘n huis in die dorp gesteel het. Haar eerste hofverskyning was die afgelope Maandag (20) April.
In Darling is ‘n 17-jarige in hegtenis geneem nadat hy voorverlede Dinsdagaand (7 April) na bewering ‘n 30-jarige man met ‘n mes gesteek het. Die minderjarige sal vermoedelik vandag (Donderdag 23 April) op ‘n aanklag van poging tot moord in die landdros- hof verskyn. Die messteker het glo die slagoffer die vorige aand gewaarsku dat hy hom met ‘n mes in die nek gaan steek. Op die betrokke Dinsdagaand het hy die slagoffer in die skouer gewond.
’n Driejarige seuntjie het twee weke gelede, op Dinsdag 7 April, in ‘n plaasdam in die Lutzville-omgewing verdrink. Die omstandighede word ondersoek.
Jakob van der Westhuizen (50) is voorverlede Saterdagnag (11 April) in ‘n tref-en-trap-ongeluk tussen die Platklip- en Gousblom- plase in die Graafwater-omgewing oorlede. Die voorval word ondersoek.




