Verskeie politieke leiers en raadslede van die Demokratiese Alliansie (DA) en verteenwoordigers van vissergemeenskappe het vroeër vandag in dié Weskusdorp se hawe byeengekom om die herstel van byna 300 kleinskaalse visvang-vaartuigpermitte in die tradisionele lynvissektor te vier.
Geordin Hill-Lewis, nuutverkose leier van die DA, Willie Aucamp, die nasionale Minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Tertuis Simmers, die Wes-Kaapse provinsiale leier van die DA, Jaco Londt, die party se provinsiale voorsitter, en Marius Koen, die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) se burgemeester, was ván die gaste wat dit bygewoon het.

‘n Tradisionele Weskus-lekkerny, snoek en roosterkoek, is ook tydens die geleentheid, wat in koel, bewolkte weer gehou is, op die kole gebraai.
Volgens ‘n media-verklaring wat vroeër deur die DA uitgereik is, was die herstel van die permitte ‘n belangrike stap om ekonomiese aktiwiteite te ontsluit, bestaansmiddele te beskerm en geleenthede vir kusgemeenskappe uit te brei. “Dit weerspieël die DA se verbintenis tot werkskepping en ekonomiese groei deur sy rol in die Regering van Nasionale Eenheid (RNE).
Deur kleinskaalse vissers te ondersteun en toegang tot die oseaan-ekonomie moontlik te maak, help die DA om inklusiewe plaaslike ekonomieë te laat groei en ‘n sterker Suid-Afrika te bou.”
In sy toespraak vanoggend het Hill-Lewis gesê hy het, as kind, van sy beste tye en ervarings in sy lewe in die Weskus gehad. “As kind het ek naweke in Paternoster deurgebring en gereeld kreef saam met die vissergemeenskap geduik. Hoewel ek later kontak met die Weskus verloor het, het ek egter mettertyd weer besef en ervaar hoe belangrik die vissergemeenskap van dié gedeelte van die land is vir die Wes-Kaap.”
Volgens die DA-leier is daar steeds baie struikelblokke en uitdagings in die bedryf. “Ons, as die DA het vir Minister Aucamp gesê hy moet kyk na die vissergemeenskappe in die Wes-Kaap, want hulle is belangrik. Die minister het geluister en besluite geneem wat tot voordeel was van die vissergemeenskap.”












In sý toespraak het Aucamp gesê daar moet besef word dat, om die ekonomie te groei en werkskepping te laat plaasvind, nie in opposisie staan met wat in die beste belang van die omgewing is nie. “As ons die natuur wil beskerm, moet ons eerstens die mense beskerm wat daardie natuur moet oppas. Dit is wat ons gaan doen. Daar is nog verskeie uitdagings, maar ons gaan elkeen aanpak.”
Volgens Hilda Adams van die Weskus Vissers-koöperatiewe Forum het die aanstelling van Aucamp as nuwe nasionale minister ‘n gevoel van hoop gebring, maar is daar nog baie werk om te doen. “Verskeie regulasies in die beleid vir kleinskaalse vissers moet herroep word en daar is krisisse wat nog aangespreek moet word. Dit gaan egter tans beter met die nuwe minister. Hy het belowe hy gaan gesprekke hou met vissers.”
Volgens Charles Jordaan van die St. Helenabaai Vissersgemeenskap Forum is daar egter tans niks om te vier nie. “Die Wet op Mariene Hulpbronne word nie aangespreek nie. Dit móét verander word want dit maak nie voorsiening vir inheemse mense nie. Kernprobleme en armoede moet aangespreek word.
Dit is die visserman wat buite gelaat is en nie kan inkom nie.”





You must be logged in to post a comment.