Dick van Dijk op sy beskadigde grasperk. Foto: Danie Hefers

Losloperbeeste steeds ‘n ergernis, sê inwoner


Inwoners in die rustige Jacobsbaai tussen Saldanha en Vredenburg in die Saldanhabaai- munisipale gebied (SBM) voer ‘n jare lange stryd teen loslopende beeste wat veral snags tuine vertrap, grasperke beskadig en selfs moontlike gevare inhou vir voertuigverkeer in besige dorpstrate.

Volgens Dick van Dijk, ‘n bekende inwoner, sakeman en eienaar van die plaaslike Abalone-gastehuis, is die beeste ‘n knaende kopseer.

“Hulle verwoes my tuin en vreet gate in my grasperk, waarop ek baie geld spandeer het. Die beeste is gereeld hier en is selfs ‘n probleem vir gaste.

“Die vee loop tussen voertuie rond en kan dit maklik beskadig. Beesmis wat oral rondlê, is ook ‘n las vir my.”

Van Dijk sê hy kla al geruime tyd by die SBM se wetstoepassers. “Daar kom egter nie ‘n permanente oplossing nie. Beeste word eenvoudig nie geskut nie. Eienaars word nie beboet nie.

“En nou is die gevreesde en hoogs aansteeklike bek-en-klouseer-virus ook nog ‘n probleem. Hier is baie bokkies wat rondloop en die beesmis wat rondlê skep beslis risiko’s vir omliggende plase waar eienaars met vee boer.”

Volgens Van Dijk het hy selfs in Januarie 2020 ‘n saak by die polisie in Saldanha gaan open weens skade aan sy eiendom.

“Die polisie het egter bloot

skouers opgetrek en my ingelig dat hulle niks aan die saak kan doen nie, aangesien hulle nie weet aan wie die beeste behoort nie.”

SBM dra kennis

Jacobsbaai se voortslepende veeprobleem is selfs in 2021 al deur die voormalige burgemeester, André Truter, geopper in ‘n skrywe aan Heinrich Mettler, die munisipale bestuurder.

Truter was toe die raadslid vir Wyk 5. In die skrywe vra hy dat die veeklagtes in Jacobsbaai ernstig ondersoek moet word, omdat dit ‘n daadwerklike probleem is met geen einde in sig nie.

Dit is nou byna ses jaar later en blykbaar is die einde steeds nie in sig nie.

Volgens ‘n besorgde inwo- ner, Tredoux Odendaal, was loslopende vee reeds byna 25 jaar gelede ‘n probleem in Jacobsbaai, maar die situasie het vererger namate die dorp gegroei en verkeer toegeneem het.

Beeste beweeg veral snags deur strate en teiken erwe sonder heinings, wat volgens hom ‘n ernstige gevaar vir motoriste inhou.

Odendaal, wat al nege jaar in die dorp woon en by die buurtwag betrokke is, sê hy is keelvol vir die gebrek aan volhoubare oplossings, aangesien diere sy eiendom beskadig en selfs sy waterbronne benut.

Inwoners meen die vee kom van huurgrond naby Middelpos, met oop veld en grondpaaie wat maklike toegang bied.

Hoewel wetstoepassers soms reageer, word beeste bloot weggejaag en boetes glo selde betaal, terwyl skut nie konsekwent toegepas word nie.

Volgens Van Dijk kan Nguni-beeste aggressief raak en ‘n gevaar vir die publiek inhou.

Volgens Tereza Burger, ‘n woordvoerder van die munisipaliteit, is die SBM bewus van loslopende vee in sekere gebiede, insluitend Jacobsbaai en Middelpos. “Daar is gevalle waar vee afkomstig is van gebiede waar grondgebruik-ooreenkomste met die munisipaliteit bestaan. Dit bly egter die verantwoordelikheid van die betrokke vee-eienaars ofhuurders om hul diere behoorlik te beheer en te voorkom dat dit openbare ruimtes betree. Hierdie situasie word as ‘n deurlopende uitdaging hanteer, wat samewerking tussen vee-eienaars, grond- eienaars, die munisipaliteit en ander rolspelers vereis.”

Burger sê wetstoepassers tree op binne die raamwerk van toepaslike verordeninge.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 11 June 2026
    Weslander E-Edition – 11 June 2026

Gift this article