Rugbyondersteuners van Atlantis, Darling, Riverlands, Mamre, Malmesbury en Pella kry vir ‘n tweede jaar die geleentheid om rugby oor die Paasnaweek op die Mamre-sportterrein te kom geniet. Saterdag (4 April) skop die Jack Johnson Legacy-Paasnaweek-rugbytoernooi af, wat beloof om rugbyondersteuners weer eens te vermaak.
Met die eindronde op Maandag 6 April op die Mamre-sportterrein in Genadendalstraat, Mamre, tussen Atlantis- en Malmesbury- hoërskole en rugbyklubs en met ‘n indrukwekkende prysgeld van R100 000 op die spel, beloof dit een van die besigste tye in Mamre. Die groot vraag is wie gaan vanjaar die kroon dra?
Verlede jaar het Hamlets en Young Hearts die louere gedeel, maar hierdie jaar kan net één span die wenner wees.
Die Jack Johnson Legacy- Paasnaweek-rugbytoernooi (JJL) is ‘n droom van ‘n jong man, Jack Johnson, maar hy kon dit nooit van stapel stuur nie nadat hy ‘n paar jaar gelede oorlede is.
Die JJL-Paasnaweek-rugbytoernooi is in 2025 gebore, met Hamlets en Mamre as die eerste genooide klubs.
Ná die amptelike bekendstelling en loting, wat Sondag (29 Maart) gehou is, gons die dorp oor die JJL-Paasnaweek-rugbytoernooi.
Ná verlede jaar se gelykop uitslag tussen Hamlets en Young Hearts is die reëls aangepas om te verseker dat vanjaar net een wenner kan oplewer. Saxonsea en HTS Proteus skop die toernooi af om 11:00, terwyl Schoonspruit sy rekening teen Robinvale om 12:10 open.
Die grootkanonne Young Eagles en Never Despair pak mekaar om 14:15, terwyl die twee dorpspanne Hamlets en Mamre mekaar vir die eerste keer in meer as 60 jaar aandurf.
Ondersteuners kan uitsien na opwindende rugby. Kaartjies kos R100 vir ‘n gesinskombo (vier volwassenes), R30 per volwassene of hoërskoolleerder sonder uniform en R15 vir pensioentrekkers, kinders onder 12 en hoërskoolleerders in uniform.
Volg JJL op Facebook vir nog inligting of bel Morgan Sambab by 073 915 7596.





