“Terwyl ek op die eilandjie gestrand was, het ek drie skulpe, van groot na klein, opgetel en in my sak gedruk – een vir my oorlede vrou, een vir myself en een vir my dogter in die Kaap. Ek het besef dat ek moontlik gaan verdrink. My lewe is verby.”
Só beskryf Nico Pentz (58) sy ervaring op ‘n klein eiland naby St. Helenabaai, waar hy die afgelope Sondag (22 Maart) vir byna ‘n uur gestrand was, terwyl seetoestande vinnig versleg het.
Volgens Nico, wat sedert Februarie in die Midwest-woonwapark in die dorp woon, het hy vroegmiddag besluit om in die see naby die woonwapark met sy enkelkano te gaan roei. “Ek het in die see, sowat ‘n kilometer van die Midweststrand, geroei toe die wind skielik sterk begin waai het. Die gety het ook sterker geword en weens die springgety het die watervlak begin styg. Ek het besef ek is in die moeilikheid en het na ‘n klein rotseiland geroei, want ek het besef ek kan nie die strand bereik nie. Ek het met my arms vir mense op die strand gewaai, maar geen reaksie gekry nie.”
Gelukkig vir Nico het ‘n mede-kampeerder met ‘n verkyker wél opgemerk dat hy in nood verkeer en hulp benodig. Renette van Dyk, die bestuurder van die woonwapark, en Adri van Vuuren, het daarna die plaaslike NSRI-tak gekontak.
Volgens Devon Wild, die bevelvoerder van Stasie 44 in St. Helenabaai, is die stasie se reddingsvaartuig te water gelaat. “Met ons aankoms op die toneel by Midwest het ons ‘n man vasgekeer op die eiland aangetref. Die wind het toe reeds met tye tot byna 50 km/h gewaai. Ons het die man en sy kano met ons reddingsvaartuig veilig na die Midweststrand geneem, waar hy geen verdere bystand benodig het nie. Ons bedank die ooggetuie wat alarm gemaak het.”
Vir Nico is dit ‘n ervaring wat hy moeilik sal vergeet. “Ek was verlig toe ek die NSRI sien. Dit was bibberkoud. Een van die eerste dinge wat ek gedoen het toe ek veilig op die strand aankom, was om my dogter in die Kaap te bel. Ek het ‘n paar lesse geleer. Dra jou reddingsbaadjie en vergewis jouself deeglik van die windvoorspellings voordat jy op die see uitgaan. My oupa, Andy Pentz, het jare gelede by Rooi-Els verdrink toe hy deur ‘n fratsbrander van die rotse geslaan is. Sy liggaam is nooit gevind nie.”







