Nadat die eerste ronde wedstryde van die Weskus-grootuitdaagliga van die Boland-rugbyunie afgehandel is, het vyf spanne geen geheim daarvan gemaak nie dat hulle Saldanhabaai se kroon wil hê.
Vir rugbyondersteuners uit die Noordweste, Overberg, Witsentraal, Breëlangeberg, Swartland en die Weskus was die rugbyvelde weer eens hul toevlug op soek na opwindende rugby soos ‘n goeie bottel chardonnay-witwyn saam met lekker gebraaide Weskus-snoek en mossels uit die koue Benguela-seestroom as voorgereg.
Saldanhabaai is verlede jaar geen kans gegun nie toe hy vyf wedstryde agtereenvolgend verloor het en is afgeskryf, maar hulle het ondersteuners in die Boland gewys dat jy wen nie die Grootuitdaag in Junie en die Top-12 in November nie, maar jy speel tot die laaste minuut van ‘n wedstryd.
Met hierdie filosofie het Saldanhabaai rugbyondersteuners en rugbyspanne verkeerd bewys toe hulle nie net die Weskus- liga nie, maar ook Boland Rugbyunie se spogtitel, die 2025 Sanlam Boland Top-12 trofee, verower het.
Saldanha Tigers, wat sy buiging in die Grootuitdaagbeker gemaak het, het vir die eerste keer kragte met die verdedigende kampioen Saldanhabaai gemeet.
Met ‘n mengsel van oortuigende oorwinnings, – naelbytkragmetings in die eerste Grootuitdaagwedstryde – het die tweede ronde op Saterdag 14 Maart afgeskop.
Saldanhabaai het na die onderbaai gereis en Steenberg’s Cove getakel. Weer eens het Saldanhabaai verbetering getoon in sy tweede wedstryd wat duidelik sigbaar was toe hy die onderbaai se manne met 61-12 gelooi het en weer eens gewys het hy is stadig maar seker besig om sy ritme te vind.
Vredenburg was in ‘n verwoestende bui toe hy sy tweede 50-tal behaal het met ‘n oorwinning van 71-20 teen Goedverwacht en ook sy stuiwer in die armbeurs gegooi het om te wys dat hy ook gereed is vir groot wedstryde. St. Helenabaai se eerste 50-tal teen Goedverwacht van 56-18 is opgevolg met 32-20 teen Piketberg, wat hulle derde op die puntelys plaas ná Saldanhabaai en Vredenburg.
Velddrif se oortuigende oorwining van 43-27 oor Piketberg het hulle aangevuur met ‘n 50-tal, oor Hopefield 54-24, wat hulle in die vierde plek plaas ná twee wedstryde.
Young Hearts het ook sy eerste oorwinning van 38-15 oor Hopefield opgevolg met ‘n skitterende oorwinning van 20-15 oor Langebaan weg van die huis af, wat hom in die vyfde plek plaas. Paternoster se oorwinnings van 27-19 oor Langebaan en naelskraapse oorwinning van 40-38 oor Saldanha Tigers plaas hom in die sesde plek.
Vir Saldanha Tigers, Langebaan, Piketberg, Hopefield, Goedverwacht en Steenberg’s Cove is dit terug tekenbord toe om herbeplanning te doen voor hul derde ronde wedstryde eerskomende Saterdag.
Met die derde ronde wat Saterdag 21 Maart plaasvind, gaan die vonke behoorlik spat onder die top-spanne.






