Die polisie se ondersoek na die beweerde rooftog wat verlede Maandag (22 September) by die afdraai na Kapteinskloof op die pad tussen Velddrif en Piketberg (R399) gebeur het, is afgesluit.
Volgens kapt. Tania Helfrich, distrikswoordvoerder vir die Weskus-polisie, is die ondersoek na die saak as onopgespoor gesluit omdat geen verdagte geïdentifiseer kon word nie.
Die 58-jarige klaer in die saak het aan die polisie gesê die rowers het balaklawas gedra toe hulle haar omstreeks 06:20 van die pad af gedwing, met ‘n vuurwapen gedreig en van R5 800 beroof het.
Dit het glo naby die Kapteinskloof-afdraai op die R399 wat Velddrif met die N7 by Piketberg en De Hoek verbind, plaasgevind.




