‘n Vrolike middaguitstappie by Rooibaai, ‘n gedeelte van die Bergrivier in Laaiplek, Velddrif, het tragies geëindig nadat ‘n 13-jarige seun verdrink het.
Rosco Erasmus (13) se lyk is by Rooibaai se kaai aangetref nadat hy die afgelope Vrydag (26 September) saam met maats daar gaan stap het.

Die nuus dat haar seun nie meer lewe nie, was soos ‘n koue rilling vir sy ma, Abigail Erasmus (33) – die soort tyding waarvoor geen ouer gereed is nie.
Volgens Abigail het sy Rosco dié oggend voor skool die laaste keer gesien. Toe sy dié middag by die huis kom, is sy deur die Laaiplek-polisie ingelig dat haar seun moontlik verdrink het.
“Hy het uit die skool gekom en saam met sy skoolmaatjies Rooibaai toe gestap, uit Noordhoek waar ons woon. Ek was op die toneel en ons het vir ‘n duiker gewag wat hom toe uit die water gehaal het.
“Dit is nog altyd seer. Hy was my oudste kind en het groot drome gehad,” vertel Abigail.
Sy is ingelig dat haar seun vermoedelik op die houtkaai gegly het, wat tot die verdinking gelei het.
Volgens twee lede van die Velddrif-buurtwag en wat ook op die toneel was om na Rosco te soek, is hulle van die voorval ingelig en het hulle glad nie gehuiwer om in te spring en te help nie.
Arno Geldenhuys van Velddrif het ook geduik, op soek na Rosco, en sê dit is hartseer dat so iets gebeur het.
“Toe ons daar kom, was daar ooggetuies wat gesien het hoe dié seuntjie onder die water weggeraak het. Ons grootste vrees was dat die stroom moontlik kon draai en see se kant toe vloei, en dat ons hom nie sou kry nie.”
Zian du Toit, ‘n professionele duiker en ook ‘n Velddrif-inwoner, sê ‘n man wat gehengel het, het Rosco probeer red. “Ek het hom gevra waar die seun min of meer laas gesien is en waar hy hom probeer red het? Die man het gesê dit was so een of twee meter weg van die kaai af. Dit is waar ek toe begin soek het. Ek het my gut gevolg en min of meer ‘n skatting gemaak waar ek dink sy liggaam gaan wees. Dit was toe daar.”

Du Toit sê toe hy die inligting van die verdrinking ontvang, het dit reeds sowat ‘n uur vroeër gebeur.
Toe hy op Rosco se liggaam afkom, was hy nie baie hoopvol dat hy nog sou lewe nie. “Toe ek by sy liggaam kom, was dit half ‘n skok.”
Geldenhuys sê as ‘n pa van ‘n negejarige was dit nie ‘n maklike toneel om te aanskou nie. “Hy is kleiner as my seuntjie. Dit was iemand se kind; ‘n kind wat iemand grootgemaak het.”
Dit was vir beide Du Toit en Geldenhuys ‘n verligting om afsluiting aan die gesin en familie te kon bied.
Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) is omstreeks 15:25 ingelig. Craig Lambinon, ‘n woordvoerder vir die NSRI, sê nooddienste was op die toneel met hul aankoms.
Volgens Estelien Erasmus, Rosco se tannie, kon hy nie swem nie en volgens Aligail was dit Rosco se eerste besoek aan Rooibaai. “Dis ‘n groot verlies. Hy was nog so jonk. Dit kon een van my kinders ook gewees het. Dis baie hartseer, want ‘n mens verwag nie dat so iets jou familie sal tref nie. Hy was ‘n goeie kind en baie respekvol,” sê Estelien.
Abigail beskryf Rosco as ‘n sportliefhebber, met ‘n liefde vir sy skool.
In hierdie moeilike tyd besef sy dat sy sterk moet wees vir haar ander twee kinders wat hul ma nodig het.






You must be logged in to post a comment.