Keelvol kleinskaalse vissers het die afgelope Maandag (14 Julie) die ingang na die Sandy Point-hawe in St. Helenabaai tydelik versper. Dié optrede in die Agterbaai was deel van ‘n uitgebreide landwye betoging by verskeie kleinboothawens.
Hoewel die betoging in St. Helenabaai vreedsaam verloop het, het Weskusvissers hul stemme behoorlik dik gemaak met vurige slagspreuke en plakkate wat hul frustrasies oor bestaande visvangkwotas en beleid getoon het.
Die vissers het hul teleurstelling uitgespreek oor die afwesigheid van dr. Dion George, die nasionale minister van bosbou, visserye en die omgewing.
Charles Jordaan van die Fishers Movement for Change (FMFC) in St. Helenabaai het ‘n versoekskrif tydens die betoging aan Fatima Savel, ‘n verteenwoordiger van die departement van visserye, oorhandig.
Die versoekskrif het onder meer voorstelle bevat vir onmiddellike oorweging deur die minister. Die vissers het George 24 uur gegee om op die versoekskrif, wat deur die FMFC saamgestel is, te reageer.
Daarin eis hulle die opskorting van die huidige uitrolproses van die Kleinskaalse Vissersbeleid.
Dié vissersbeweging versoek ook dat die departement dadelik begin met ‘n deelnemende hersieningsproses, wat “ware” vissers insluit, en die daarstelling van ‘n onafhanklike taakspan, wat alle geregistreerde koöperasies moet ondersoek.
Hulle vra ook vir die skep van ‘n welsynfonds vir die bedryf.
Volgens die FMFC word die bedryf gestrem deur onder meer ‘n gebrek aan deursigtigheid en broodnodige ondersteuningstrukture vir kleinskaalse vissers. Die beweging kla dat vissers nie betrek word by beleidsbesluite nie en dat veral vangkwotas onvoldoende is vir oorlewing.
Die FMFC sê die departement van visserye ignoreer vissers se griewe en hulle meen die bedryf moet herbou word met ‘n sterker, inklusiewe beleidsproses.
Dit blyk egter nou dat die verhouding tussen die minister en die ontevrede vissers waarskynlik verder versuur het.
In ‘n mediaverklaring wat die afgelope Dinsdag deur die FMFC uitgereik is, verwerp hulle die minister se bewering dat die vissers dreigemente gemaak het.
Die FMFC sê in sy sterk bewoorde mediaverklaring en skrywe aan die minister dat dreigemente van regs- of administratiewe aksie teen betogende vissers nie hul stemme sal stilmaak nie.
“Die onlangse betogings was ‘n formele en wettige versoek vir direkte betrokkenheid met die FMFC-leierskap oor die langdurige onreg wat kleinskaalse en tradisionele vissers in die gesig staar,” sê Jordaan in die FMFC-verklaring.
Volgens hom verdiep die departement se dreigemente bloot die wantroue tussen gemeenskappe en die departement van visserye.
Die FMFC sê voorts dat vissers in dorpe soos onder meer Paternoster, St. Helenabaai, Houtbaai en St. Francisbaai in die Oos-Kaap sal voortgaan om hul voorvaderlike en tradisionele vissersregte uit te oefen.
“Ons sal ook voortgaan met gemeenskapsgeleide oes- en see-aksies.
“Ons is nie misdadigers nie. Ons is die regmatige bewaarders van die oseaan en sal nie toelaat dat beleidmislukkings en politieke arrogansie ons bestaan ontken nie,” sê Jordaan.
Volgens die FMFC het hulle steeds nie antwoorde van George ná hul spertyd van 24 uur, wat Dinsdag reeds verstryk het, gekry nie. Hulle het wél ‘n Whatsapp-erkenning van ontvangs van die minister se kantoor gekry.






