“Hy was tydens die voorval langs my in die huis … en my kind is nie ‘n bendelid nie,” het die ma van ‘n 14-jarige beskuldigde op Vrydag 5 September in die Atlantis-landdroshof getuig.
Die minderjarige seun het aansoek gedoen om borgtog. Hy is in hegtenis geneem op aanklag van moord en poging tot moord nadat ‘n 25-jarige man Woensdagoggend (3 September) in ‘n straat in die Saxonsea-woonbuurt doodgeskiet en ‘n vierjarige kleuter ernstig in die aanval gewond is.
Daar word bespiegel dat dit ‘n bendeverwante voorval was.

Die oorledene, Llewellyn Botha, ook van dié buurt, is verskeie keer geskiet en is op die toneel dood.
Die voorval het skokgolwe deur die gemeenskap gestuur en trek baie aandag op sosiale media.
Die kleuter sterk tans in ‘n Kaapse hospitaal aan nadat sy ‘n noodoperasie ondergaan het.
Volgens kapt. Lisa Munro, woordvoerder vir die Atlantis-polisie, is die kind van agter geskiet en is die koeël voor by haar maag uit.
Die minderjarige verdagte het deur sy regsverteenwoordiger in ‘n verklaring die hof gevra om hom borgtog toe te staan omdat hy geen vorige veroordelings het nie. Daar is ook nie ander sake teen hom aangemeld nie.
In dié verklaring onderneem die minderjarige om op elke hofdatum teenwoordig te wees. Hy is van plan om onskuldig op die aanklagte teen hom te pleit.
Hy dui ook in die verklaring aan dat hy geen risiko vir die gemeenskap inhou en nie met getuies in die saak sal inmeng nie.
Volgens die ma wag sy steeds vir terugvoer vanaf die minderjarige se skool oor die redes waarom hy vroeër vanjaar geskors is.
Op ‘n vraag oor waarom die kind geskors is, het die ma gesê die skool voer aan haar kind is ná skool gesien waar hy met ‘n handgemaakte vuurwapen rondloop.
Die ma het die hof verseker dat sy sal toesien dat die kind sy borgtogvoorwaardes nakom.
Die borgtogaansoek gaan op Maandag 8 September voort wanneer die Staat na verwagting met kruisondervraging gaan begin. Die ondersoekbeampte sal ook op dié dag getuig.





You must be logged in to post a comment.