‘My vriend en buurman het haar vermoor’ meen moordbeskuldigde

Misdaad | Crime
Misdaad | Crime

ATLANTIS – Janet Jordan (67) van Pearl Mansion is op 26 Januarie na bewering wreed deur haar skoonseun met ’n byl aangeval toe sy net die vrede tussen hom en sy vrou wou bewaar. Sy het ’n week later in die Wesfleur-hospitaal aan haar beserings beswyk.

Moegamat Tabisher (35) het Vrydag (13 Februarie) in die Atlantis-landdroshof verskyn op aanklagte van moord en ernstige aanranding.

Moegamat Tabisher(35) Vrydag (13 Februarie) in die Atlantis-landdroshof. Foto: Murphy Roberts

’n Ingeligte bron het gesê die argument tussen Tabisher en sy vrou het glo oor seks gegaan. Die bron het verder verklap dat die verdagte na bewering om middernag seks met sy vrou wou hê, maar sy het geweier, wat glo tot ’n argument gelei het.

Janet het glo telkemale probeer die vrede te bewaar, maar is toe ook deur Tabisher met ’n byl aangeval.

Volgens ontstoke inwoners het Tabisher ná die aanval gevlug nadat hy sy skoonma na bewering twee keer met die byl oor die kop geslaan het. Hy het glo later aangevoer dat daar ingebreek is en die inbreker hulle aangeval het.

Tabisher is ongeveer twee kilometer van die toneel van die misdaad onder ’n bakkie gekry waar hy probeer wegkruip het. ’n Betroubare bron het gesê hy is onder die bakkie uitgetrek en woedende bure en inwoners hom toe glo “van sy eie medisyne” gevoer het – met sy eie byl.

Janet het meer as ’n week ná die aanval in die hospitaal beswyk, en die verdagte was deurentyd onder polisiebewaring in dieselfde hospitaal.

Tabisher, wat in ’n rolstoel is ná die voorval, het ’n aansoek om borgtog gebring. Volgens die verdagte het hy ’n plaat in sy arm en ’n plaat in sy been, en het hy aan die hof genoem dat hy verskeie kopwonde opgedoen het. Volgens omstanders het die polisie net betyds opgedaag om sy lewe te red.

Die verdagte het voer in sy eie getuienis aan dat hy verkeerdelik met die misdaad verbind word en sy vriend en buurman van die moord beskuldig. “Dit is hy wat my so aangerand het sodat ek nie die waarheid kan praat nie,” het Tabisher aan die hof gesê.

Hy het verduidelik dat inwoners van Pearl Mansion jaloers op hom is en hom daarom blameer.

Die verdagte beweer die argument dat die voorval oor seks handel van alle waarheid ontbloot is. Hy sê hy het geslaap toe hy wakker skrik en wou weet waarom die oorledene al die wyn gedrink het.

Die staat het egter tydens kruisverhoor aangedui dat Tabisher sy getuienis aanpas om ander te blameer. Volgens die staat het minderjariges gesien hoe hy hul ouma met die byl aanval en probeer terug in die huis sleep.

Speursers. Elo Hendricks, ondersoekbeampte, verlaat die hof nadat die borgtogaansoek uitgestel is. Foto: Murphy Roberts

Tabisher het egter teruggekap dat die ondersoekbeampte die kinders aangehits het om dit te noem. Hy het ook aan die hof genoem dat hy geen vorige oortredings het en geen hangende sake teen hom het nie.

Die staat het egter weer eens beandruk dat Tabisher die hof probeer mislei het en ongeveer 11 oortredings genoem, waaronder moord en verkragting.

Familie en vriende van die vermoorde Janet Jordan (67 van Pearl Mansion het Vrydag 13 Februarie by die Atlantis-landdroshof opgedaag en gevra dat die verdagte nie borgtog moet kry nie. Foto: Murphy Roberts

Volgens die staat is daar ook ’n beskermingsbevel teen die verdagte, maar hy het ontken dat dit die waarheid is. “Inwoners van Pearl Mansion blameer my omdat ek die buurman wil beskerm,” het hy aan die hof gesê.

Die saak is uitgestel tot Donderdag 26 Februarie, en die verdagte bly in aanhouding.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article