Die innoverende Atlantis-Ruimte-STEM-program het ‘n belangrike mylpaal bereik – nuwe finansiering is verseker om vyf deelnemende skole in Atlantis, Kaapstad, oor die volgende drie jaar te ondersteun.
Die program vier ook twee jaar se bevordering van onderrig in wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde (STEM).
Die aankondiging tydens die program se tweede bestaansjaarviering beklemtoon die inisiatief se groeiende impak op leerders en die volgehoue betrokkenheid van vennote wat in toekomstige STEM-talent belê.
Die program is ‘n gesamentlike inisiatief van die Atlantis- spesiale ekonomiese sone (Asez), die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD), Atlantis Foundries, MAXIQ, Wesgro, die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT) en die Suid-Afrikaanse Nasionale Ruimteagentskap (Sansa).
Dit bied leerders die geleentheid om ruimtewetenskap, tegnologie en praktiese STEM-toepassings te verken.
Die doel is om jongmense toe te rus met die kennis en vaardighede om volwaardig aan ‘n vinnig veranderende ekonomie waarin wetenskap en vernuwing ‘n toenemend belangrike rol speel, deel te neem.
Atlantis Foundries lewer ‘n sleutelbydrae tot die program se sukses.
Die maatskappy se belegging het gehelp om die inisiatief te vestig en toegang tot leergeleenthede in ruimtewetenskap en STEM uit te brei.
Die vennootskap wys hoe samewerking tussen die nywerheid, die regering en onderwysinstellings onderwys kan versterk en terselfdertyd die tegniese vaardighede kan help ontwikkel wat toekomstige bedrywe sal benodig.
Die nuwe finansiering verseker dat die program vir die volgende drie jaar kan voortgaan en leerders by die vyf deelnemende skole kan bly ondersteun. Die belegging sal na verwagting praktiese STEM-leergeleenthede versterk en volgehoue leerderdeelname en vaardigheidsontwikkeling bevorder.
‘n Belangrike deel van die viering was ‘n paneelbespreking oor die implementering en volhoubaarheid van die program, asook die waarde van langtermynvennootskappe.
Die gesprek het ondersoek hoe samewerking tussen die nywerheid, onderwysinstellings, staatsdepartemente en wetenskaplike agentskappe betekenisvolle STEM-leergeleenthede moontlik maak.
Onderwerpe het onder meer programmonitering en -evaluering, inskakeling by die breër onderwysstelsel, betrokkenheid van die nywerheid en die bevordering van groter bewustheid van loopbaangeleenthede in die ruimtesektor ingesluit.
Die geleentheid het ook deelnemende leerders se prestasies uitgelig.
Hul aanbiedings en demonstrasies het die kennis, kreatiwiteit en tegniese vaardighede, wat hulle deur die program ontwikkel het, weerspieël.
Leerders het hul probleemoplossingsvaardighede, vernuwende denke en groeiende belangstelling in STEM-vakgebiede ten toon gestel en só die praktiese waarde van die inisiatief in skole geïllustreer. Verteenwoordigers van Atlantis School of Skills, Atlantis Senior Secondary School, Proteus High School en ander deelnemende instellings het tot die geleentheid bygedra.
Matt Cullinan, die uitvoerende hoof van die Asez, het die viering bygewoon en die organisasie se verbintenis tot onderwys en vaardigheidsontwikkeling herbevestig. Albei is belangrike drywers van inklusiewe ekonomiese groei en help om jongmense vir die werkswêreld voor te berei. Asez beskou programme soos die Atlantis- Ruimte-STEM-program as belangrike boustene in die ontwikkeling van toekomstige talent vir Atlantis en die Wes-Kaap.
Namate die program sy volgende fase betree, sal die Asez en sy vennote voortgaan om toegang tot STEM-onderwys uit te brei, vernuwing onder jongmense aan te moedig en toegang tot verdere studie en STEM-loopbane te bevorder.
Die finansiering vir die volgende drie jaar sal na verwagting voortbou op die eerste twee jaar se sukses en verdere geleenthede skep vir leerders om moontlike loopbane in die groeiende ruimte- en tegnologiesektore te verken.
LEES OOK: GROEN KOLOM | Atlantis al nader aan groener toekoms





