Terwyl kosbare water uit Serfonteindam buite Kroonstad in die Valsrivier wegvloei, kan die munisipaliteit nie water na die Bloemhoekdam pomp nie – ’n situasie wat vrese laat ontstaan dat die dorp weer ’n ernstige waterkrisis soos die van 2016 kan beleef.
Hoewel die sluise intussen gedeeltelik toegemaak is, het VrystaatKroon op 14 Oktober by die dam vasgestel dat water steeds wegvloei. Waarskynlik omdat die sluise by Serfonteindam nie behoorlik kan toe maak nie.
Intussen waarsku die sakeman Spiro Khoury dat Kroonstad op ’n moontlike ramp afstuur indien die probleme nie dringend opgelos word nie.
Die sluise is op 23 September oopgemaak, maar kon, soos vroeër berig, nie weer behoorlik toegemaak word nie. Die meganismes is glo reeds jare lank gebrekkig, terwyl rommel of ander materiaal moontlik verhoed dat dit behoorlik sluit.
‘Moontlike ramp, soos dié van 10 jaar gelede, dreig’
Die probleem word vererger deurdat die pompe by Groblersdam nie die water na die Bloemhoekdam kan pomp nie. Bloemhoekdam is die belangrikste reservoir wat Kroonstad se stedelike en nywerheidsgebiede van water voorsien.
Khoury het op 15 Oktober by die Robotbrug ‘n video geneem en sy kommer uitgespreek oor die water wat steeds daar verby na die rivier vloei.
“Die rivier loop sterk, hoewel dit nie gereën het nie. Dit gebeur omdat die sluise van Serfonteindam nie kan toemaak nie. Die pompe by Groblersdam pomp nie die water na Bloemhoekdam nie. ’n Moontlike ramp, soos dié van 2016, dreig,” sê Khoury.
Hy voeg by die omstandighede is reeds onder verskeie raadslede en die uitvoerende burgemeester se aandag gebring, maar teen 15 Oktober is nog geen terugvoering ontvang nie.
Foutiewe transformator dra by tot uitdagings
Die VF Plus het intussen ’n dringende skrywe aan die waarnemende munisipale bestuurder en die uitvoerende burgemeester van die Moqhaka-munisipaliteit gerig en op onmiddellike ingryping aangedring.
Lousanne van Heerden, VF Plus-raadslid in Moqhaka, sê die situasie beklemtoon die noodsaaklikheid daarvan om munisipale infrastruktuur behoorlik te herstel en in stand te hou.
Vroeër is berig dat ’n foutiewe transformator ook die herstel van die pompstelsel by die Bloemhoekdam bemoeilik. Die munisipaliteit het glo ondersoek ingestel na die moontlikheid daarvan om ’n kleiner transformator te bekom sodat ’n kleiner pomp intussen in werking gestel kon word.
Met kommer oor moontlik droë toestande en die streek se toekomstige watervoorraad, eis inwoners antwoorde oor waarom die sluise oopgemaak is, waarom water steeds wegvloei en wanneer die pompstelsel herstel sal word.
Vir Kroonstad gaan dit nie bloot oor water wat in ’n rivier wegvloei nie, maar oor die beskerming van ’n kosbare hulpbron waarvan duisende inwoners afhanklik is.





