Inwoners van Senekal en Matwabeng word deur ernstige watertekorte geraak weens infrastruktuurprobleme, hoë waterverbruik en vertragings in herstelwerk aan verskeie sleuteltoevoerpype.
‘n Multi-miljoenrand-watervoorsieningprojek is onder konstruksie om die situasie op die duur te verlig, maar die projek sal eers na verwagting teen middel 2026 voltooi wees. Intussen bly die gemeenskappe afhanklik van ‘n waterstelsel wat onder toenemende druk verkeer.
Die hoofwater-toevoerpyp vanaf Cyferfontein na die dorp het reeds middel Desember ‘n kraak ontwikkel. Weens die afwesigheid van die diensverskaffer gedurende die vakansietydperk kon die saak nie onmiddellik reggestel word nie. Die pyp is onlangs tydelik herstel, wat tot ‘n kortstondige verbetering in watertoevoer gelei het.
Volgens Irma Heymans, VF Plus-raadslid van die Setsoto-munisipaliteit, word die verspreiding van skoon water egter steeds gekniehalter deurdat die stelsel voortdurend leeg loop en lug in die pype opbou, wat effektiewe verspreiding bemoeilik.
LEES OOK: Waternood verlam Senekal, inwoners en instellings spartel voort
“Die hoë somertemperature van die afgelope tyd het boonop waterverbruik aansienlik verhoog, terwyl bestaande kapasiteit nie voldoende is om 24 uur per dag water te voorsien nie. As gevolg hiervan word die watertoevoer gereeld afgelas sodat reservoirs weer kan opvul,” sê Heymans.
‘n Verdere uitdaging het ontstaan by die pypleiding wat die hoofopgaardam by Cyferfontein vanuit die Sandrivier moet aanvul.
Dié is onklaar, wat beteken dat geen water uit die rivier na die reservoir gepomp word nie. Heymans sê herstelwerk kon nie gedurende die vakansietydperk plaasvind nie aangesien die diensverskaffer nie beskikbaar was nie.
“Toe materiaal uiteindelik afgelewer is, was dit egter van die verkeerde groottes, wat verdere vertragings veroorsaak het.”
Sakeondernemings op die dorp word besonder swaar getref deur die watertekorte. Pogings om watertenkwaens gereeld na hierdie ondernemings te stuur, was volgens berigte nie altyd suksesvol nie.
Intussen het veral inwoners in hoër geleë gebiede die ergste onder die tekort gely, met sommige wat reeds bykans 30 dae lank sonder lopende water sit. Die situasie het tot toenemende frustrasie en druk vanuit die gemeenskap gelei. Plaaslike betrokkenes het intussen onderneem om self ondersoek in te stel na die oorsaak van die aanhoudende probleme.
Daar word vermoed dat die uitdaging nie slegs aan lug in die pype toegeskryf kan word nie en dat verdere tegniese foute moontlik teenwoordig is. Heymans voeg by dat ‘n dringende versoek aan die munispaliteit gerig is om die herstelwerk te bespoedig en ‘n volhoubare oplossing vir die dorp te vind.
Senekal het sedert 2016 wateruitdagings wat steeds nie opgelos kon word nie.
- VrystaatKroon het ‘n navraag aan die munisipaliteit gerig en wag op terugvoering.


