Die Vrystaat se Greco-Roman-stoeiers het op die Suid-Afrikaanse stoeifederasie (SAWF) se nasionale Greco-Roman-kampioenskapsbyeenkoms in Pretoria hul staal getoon toe hulle teen van Suid-Afrika se beste stoeiers meegeding en indrukwekkende uitslae behaal het.
Die kompetisie, wat op 30 Mei aangebied is, het 591 inskrywings van oor die land heen getrek.
Teen dié sterk mededinging het die Vrystaat met ‘n span van 31 stoeiers en vyf afrigters deelgeneem.
Stoeiers van verskillende klubs het hul klubkleure hiervoor opsy geskuif en as een Vrystaat-span saamgestaan. Wedywering is verruil vir ondersteuning, kameraadskap en ‘n gedeelde doelwit: om die provinsie met onderskeiding te verteenwoordig. Die werk en voorbereiding van die span het vrug afgewerp toe die Vrystaat die kampioenskapsbyeenkoms met ‘n uitstekende medalje-oes afgesluit het.
Die span het 9 goue medaljes, 8 silwermedaljes en 11 bronsmedaljes verwerf, terwyl 3 stoeiers vierde plekke behaal het. Die deelnemers moes lang ure op die stoeimat deurbring en strawwe wedstryde teen gedugte teenstanders aanpak.
Ondanks dié uitdaging het die Vrystaatse stoeiers deursettingsvermoë, dissipline en uitstekende sportmangees getoon. Volgens die afrigters en bestuur weerspieël die uitslae benewens die talent van die stoeiers die toewyding van ouers, afrigters en klubbestuurders wat deur die loop van die seisoen gewerk het om die span voor te berei.





