Drie Bloemfonteiners het hul Protea-kleure ontvang op die Suid-Afrikaanse kampioen-
skapsbyeenkoms vir biathle, triathle en laserwedloop wat van 2 tot 4 Julie in Pietermaritzburg aangebied is.
Die Vrystaat het die naasgrootste provinsiale span ingeskryf met 68 atlete.
Twee senior atlete wat wys dat hierdie sportsoorte vir atlete van alle ouderdomme is, is Lynette Fischer en Stella Heyns.

Veral die jong deelnemers van die Vrystaat het uitgeblink, met die o.13-meisies wat skoonskip gemaak het in laserwedloop. Z’ney Piechaczek het die wedloop gewen, Elné Smith was tweede en Kaylyn Blair was derde.

Die Van Rooyen-gesin van Bloemfontein het al vier medaljes verwerf, met Lane wat Protea-kleure ontvang het en die laserwedloop vir junior vroue gewen het. Haar broer, Waldo van Rooyen (seuns o.13), was tweede in die laserwedloop, Dewald van Rooyen (mans 40 jaar en ouer) was tweede en sy vrou, Lena (vroue 40 jaar en ouer), was derde in die laserwedloop.
Ook Shannon Kruger, wat in die afdeling vir senior vroue meeding, het Protea-kleure gekry, in biathle. Sy was tweede in die afdeling vir senior vroue.
AJ Theron (o.19) het Protea-kleure ontvang vir triathle en laserwedloop. Hy het tweede gekom in sy afdeling van die kompetisie in die laserwedloop en derde in die triathle.

Lynette Fischer het ‘n vyfde keer agtereenvolgens in haar ouderdomsgroep op die Suid-Afrikaanse biathle-kampioenskap gewen. Sy neem in die afdeling vir meesters vroue, 60 jaar en ouer, deel. Sedert 2022 is sy die wêreldkampioen in die biathle.
Fischer se dogter, Carlyn Coertzen, wat onlangs teruggekeer het uit Frankryk waar sy die afgelope agt jaar gewoon het, het op dieselfde byeenkoms in die afdeling vir senior vroue in biathle gewen.
Sy is ook as die victrix ludorum aangewys.

Miane Wessels wat die laserwedloop vir meisies o.11 gewen het. Stella Heyns het die afdeling vir vroue 70 jaar en ouer in die triathle, biathle en laserwedlope gewen.
Adrie Vermaas en sy vrou, Rika het albei podiumplekke behaal. Adrie het die afdeling vir mans 60 jaar en ouer in die biathle gewen en en Rika het ‘n tweede plek vir vroue 60 jaar en ouer in biathle behaal.
Ander podiumplekke was:
Laserwedlope op 2 Julie:
- Seuns o.14 – Handre Bubb (derde)
- Meisies o.11 – Abigail Mogorosi (derde)
- Meisies o.15 – Caylyn de Kock (tweede)
- Meisies o.17 – Lisabelle Beukes (tweede)
- Vroue 50 jaar en ouer – Barendina Fourie (derde)
Triathle op 3 Julie:
- Meisies o.13 – Kaylyn Blair (tweede) en Z’ney Piecharczek (derde)
- Meisies o.15 – Cailyn de Kock (derde)
- Vroue 50 jaar en ouer – Ina Prinsloo (derde)
- Vroue 60 jaar en ouer – Lynette Fischer (derde)
Biathle op 4 Julie:
- Seuns o.15 – Johnathan Matthew (tweede)
- Vroue 50 jaar en ouer – Ina Prinsloo (derde)

Lees ook: Atlete blink uit op Wêreldkampioenskap.
Die drie dissiplines biathle, triathle en laserwedlope vorm deel van moderne vyfkamp en word internasionaal gesien as die ontwikkelingsport vir dié sportsoort.
Die afrigters vir laserwedlope is Van Zyl Naude, Lynette Fischer doen die afrigting vir triathle en biathle in Bloemfontein en Tian Nel in Bethlehem.







You must be logged in to post a comment.