Die Hoërskool Trio in Kroonstad het die Wesgrow Sentrale Skole Sportreeks die afgelope naweek met groot selfvertroue begin toe hulle teen die Hoërskool Diamantveld van Kimberley kragte gemeet het – en die seges ingeryg het.
Dit was ‘n sterk begin vir die Kroonstadters in die gewilde sportreeks, met wedstryde wat op Saterdag 14 Maart in Kroonstad plaasgevind het.

Op die astroveld het die hokkiespelers van Trio hul teenstanders oorrompel en skoonskip gemaak met ses uit ses oorwinnings vir die dag.
In netbal was dit egter Diamantveld wat die botoon gevoer het. Die eerstespanwedstryd was besonder spannend, met Diamantveld wat eindelik met net een doel die oorwinning beklink het.
Die hoogtepunt van die dag was sonder twyfel die eerste spanne se rugbywedstryd, wat die toeskouers regdeur op die punt van hul stoel gehou het. Trio het vroeg die septer geswaai en ’n gemaklike voorsprong opgebou. Ná rustyd het Diamantveld egter sterk teruggeveg en die momentum na hul kant toe geswaai. Met slegs minute oor het Diamantveld daarin geslaag om die voortou te neem en dit het gelyk asof die wedstryd uit Trio se hande glip. Maar die Kroonstadters het nie tou opgegooi nie. In die doodsnikke van die wedstryd het hulle een laaste aanval geloods, deur die verdediging gebreek en onder die pale gaan druk.
Met ’n koelkop-doelskop het Trio die wedstryd dramaties met 41 – 40 beklink.
‘n Dag van uitmuntende skolesport, gevul met opwinding, geesdrif en sportmangees – ’n ware fees vir spelers en ondersteuners.






You must be logged in to post a comment.