Robert Stanton (29, regs) is onlangs as voorsitter van Tafelronde 60 Bethlehem verkies hy neem die leisels by Marco le Grange oor. FOTO: Verskaf
Robert Stanton (29, regs) is onlangs as voorsitter van Tafelronde 60 Bethlehem verkies hy neem die leisels by Marco le Grange oor. FOTO: Verskaf

Die 29-jarige Robert Stanton van Bethlehem is onlangs as die nuwe voorsitter van Tafelronde 60 Bethlehem verkies.

Hy het op Donderdag 5 Februarie amptelik die leisels by die uittredende voorsitter, Marco le Grange, oorgeneem. Stanton, oorspronklik van Pretoria waar hy sy skoolloopbaan voltooi en verder studeer het, is tans by BR Dienste in Bethlehem werksaam. Hy is reeds drie jaar aktief betrokke by Tafelronde 60 Bethlehem en sien sy nuwe rol as ’n voorreg.

“Almal is vir ’n rede op aarde geplaas en ek glo vas myne is om ander mense te help. Daar is niks wat my groter vreugde verskaf as om ’n verskil in iemand anders se lewe te maak nie,” sê Stanton.

Volgens hom bied die organisasie waardevolle groei- en ontwikkelingsgeleenthede vir jong mans. “Tafelronde erken die waardigheid van verskillende beroepe en bring mans uit uiteenlopende agtergronde en met verskillende denkwyses bymekaar. Dit leer ons om as een span saam te werk.”  

Hoewel Tafelronde 60 as een van die jonger tafels in die Vrystaat beskou word, glo Stanton die tafel beskik oor groot potensiaal.

“Dit is ’n groot eer om as voorsitter te dien. Ons het verlede jaar ’n baie goeie jaar gehad en my doelwit is om voort te bou daarop en om die tafel verder te laat groei,” het hy gesê. 

Hy hoop om in die komende jaar nóg meer mense in die gemeenskap te bereik en te ondersteun. “Ons dien uit die gemeenskap, vir die gemeenskap. Daar is altyd ruimte vir groei, verbetering en die bou van sterker verhoudings.”

Met nuwe leiding en ’n duidelike visie vir uitbreiding en gemeenskapsdiens, lyk die toekoms vir Tafelronde 60 Bethlehem belowend.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article