BETHLEHEM – Die jaarlikse Graanveld-atletiekbyeenkoms, wat vanjaar deur die Hoërskool Witteberg in Bethlehem aangebied is, het weereens puik atletiek en strawwe kompetisie aangebied.
Buiten vir uitmergelende hitte, het die atlete nie teruggestaan nie en die skare met uitstaande atletiek vermaak. Dit was egter die Hoërskool Voortrekker wat stof in die teenstanders se oë geskop het en as die algehele wenner uit die stryd getree het. Voortrekker se atlete het ‘n indrukwekkende medalje-oes ingepalm met 92 goue, 66 silwer en 54 bronsmedaljes – ‘n merkwaardige 212 medaljes.

Die gasheerskool, Hoërskool Witteberg, het ook hul man gestaan en die tweede plek op die medaljelys beklee. Witteberg se atlete het 68 goue, 59 silwer en 43 bronsmedaljes bymekaar gemaak – altesaam 170 medaljes. Die Hoërskool Ntsu het die derde plek behaal met vyf goue, vier silwer en 12 bronsmedaljes. Volgens Gustav Dryer, bemarkingshoof van Witteberg, was die byeenkoms ‘n groot sukses ondanks die moeilike weersomstandighede.
“Die gehalte atletiek wat gelewer is, getuig van harde werk en toewyding nie net van die atlete nie maar oor hul afrigters,” sê hy.
Die Graanveld-atletiekbyeenkoms, hoofsaaklik deur skole uit die Bethlehem-omgewing bygewoon, is by die Goblepark-stadion aangebied.






You must be logged in to post a comment.