Psalm 56:9 sê: “U het op my trane gelet. In U boek staan hulle opgeteken.” In die ’53 Vertaling staan daar “U hou my trane in U kruik.”
Die Here sien Dawid raak, daar waar hy in die woestyn in die grot rondwoel in slapelose nagte. God hou sy trane in sy kruik. God het elke traan wat Dawid gehuil het, getel. Hulle is boekhoudkundig akkuraat deur Hom opgeskryf.
Die Here is bewus van elke detail van sy lewe. Dawid vind troos daarin dat die Here weet.
Onder sommige volke in Palestina was daar ‘n gewoonte dat vroue hul trane in botteltjies opgevang het.
Die verskil tussen ander gelowe en ons s’n: Ons hoef nie ons eie trane op te vang nie. God sal.
Hierin lê ‘n belangrike boodskap vir ons.
Vandag nog vloei daar baie trane in hierdie wêreld. Die aarde is deurdrenk van trane. Daar is trane as gevolg van algemene leed. In baie lande verloor mense hul lewe op gewelddadige maniere.
Deur die baie eeue was daar al siektes, pandemies, rampe wat die mensdom getref het. Ontelbare tranekruike vol is deur die eeue gestort.
Dit was nie net in die verlede so nie, ons weet dat dit in die hede ook so is. Die leed op aarde duur voort. Maar dit is die troos van Psalm 56: Die Here hou register daarvan. Elke traan wat gestort word, word opgevang; word op rekord geplaas.
Dit mag ons rustig maak, want God weet.
– Müller is leraar aan die NG Moedergemeente Kroonstad.


