Wat in 1987 begin het as ’n inisiatief om ’n groeiende behoefte onder Bethlehem se senior inwoners aan ondersteuning, vervoer en maatskaplike dienste aan te spreek, het oor vier dekades ontwikkel tot ’n gevestigde instelling in die gemeenskap.
Die Sonskyn Dienssentrum vir Seniors vier volgende jaar sy 40ste bestaansjaar, met ’n geskiedenis wat diep verweef is met die gemeenskap se betrokkenheid by die welsyn en versorging van ouer inwoners.

af as die tuiste van die Dienssentrum vir Bejaardes (nou die Sonskyn Dienssentrum) gedien het voordat die sentrum na sy huidige perseel verskuif het. FOTO: Verskaf
Behoefte identifiseer en uit sorgsaamheid aangespreek
Die ontstaan van die sentrum het gevolg op ’n opname wat die destydse Bethlehem Stadsraad in 1986 gedoen het. Daarvolgens het sowat 600 senior burgers alleen in hul huis gewoon. Baie van hulle het nie oor eie vervoer beskik nie, terwyl openbare vervoer ook nie beskikbaar was nie.
Die Oranje Vroue Vereniging (OVV) het daarop die inisiatief geneem om ’n dienssentrum vir senior burgers te stig. Onder leiding van Hettie Niewoudt, ’n maatskaplike werker van die OVV se bejaardesorggroep, het die plan momentum gekry.
Die voorstel vir die nuwe sentrum is op 20 Februarie 1987 op ’n byeenkoms by die lapa van Loch Athlone aan senior inwoners voorgelê. Die beoogde sentrum sou aan inwoners ouer as 60 jaar toegang bied tot ’n reeks dienste, waaronder ’n biblioteek, kliniek, haarsalon en voetversorging. Daguitstappies en bekostigbare vakansies is ook in die vooruitsig gestel.
Op 20 Mei 1987 is die Dienssentrum vir Bejaardes amptelik deur die destydse burgemeester, F.A. du Preez, bekendgestel. Twee dae later, op 22 Mei, het die sentrum se werksaamhede in die skoolsaal van die voormalige Hoogland Laerskool in Bethlehem begin.
Begindae, uitdagings en uitbreiding
Aanvanklik was die sentrum drie oggende per week oop. Die dienste het onder meer ’n haarsalon, kliniekdienste deur die munisipale verpleegster, oefeninge, leersame praatjies en ’n leeskring ingesluit. Van die begin af was gemeenskapsondersteuning ’n belangrike deel van die sentrum se voortbestaan. Inwoners en organisasies het meubels, boeke, gordyne, matte, eetgerei en ander benodigdhede geskenk, terwyl geldinsameling gehelp het om die bedryfskoste te dek.
Vervoer was aanvanklik een van die grootste struikelblokke, omdat sommige senior inwoners weens ’n gebrek aan vervoer nie die sentrum kon bywoon nie. Nadat vervoerdienste beskikbaar gestel is, het lidmaatskap vinnig toegeneem. Teen 1988 het die sentrum reeds 214 lede gehad.
In Junie dieselfde jaar het Sonskyn na die Ou Kliphuis op die hoek van Hoog- en Wesselsstraat verskuif. Die gebou is met behulp van gemeenskapskenkings ingerig en het onder meer ’n kliniek, eet- en sitkamer, kombuis, haarsalon en biblioteek gehuisves. Die sentrum het mettertyd meer as net ’n plek geword waar dienste gelewer is.
Dit het ’n belangrike ontmoetingsplek vir senior inwoners geword, met maaltye, leesaktiwiteite, Bybelstudie, praatjies, uitstappies en verskeie ontspanningsaktiwiteite wat deel van die program geword het. Die behoefte aan ’n permanente en groter gerief het egter steeds toegeneem.
LEES OOK: Bethlehem-gemeenskap ‘n helpende hand met beertjie-projek
In Junie 1989 het die stadsraad die bou van ’n nuwe sentrum, wat sowat 240 senior burgers sou kon akkommodeer, goedgekeur. Ná die verkryging van finansiering het bouwerk in Maart 1994 begin.
Die ontwikkeling het ’n saal met ’n kombuis en kantore, asook wooneenhede vir senior inwoners, ingesluit. Die verskuiwing na die nuwe sentrum in Hoogstraat 43 het op 1 Desember 1994 plaasgevind. Stadsraadwerkers, OVV-lede, Sonskyn-lede en vrywilligers het saamgewerk om die nuwe gerief in werking te stel.
Baken van dienslewering, gemeenskap en ondersteuning
Die nuwe Sonskyn Dienssentrum en seniorbehuising is op 16 Maart 1995 amptelik geopen. Teen die sentrum se 10de bestaansjaar in 1997 het Sonskyn 201 lede en agt personeellede gehad, terwyl 42 lede in die sentrum se wooneenhede gewoon het.
Die eerste dekade van Sonskyn se bestaan is verder gekenmerk deur ’n wye reeks gemeenskapsaktiwiteite, waaronder uitstappies, konserte, handwerkuitstallings, kooroptredes, sportdae en geldinsameling.
Met sy 40ste bestaansjaar wat in 2027 gevier word, staan Sonskyn Dienssentrum as ’n weerspieëling van Bethlehem se langdurige gemeenskapsbetrokkenheid by die welstand van sy senior inwoners. Van ’n klein diens wat drie oggende per week in ’n skoolsaal aangebied is, het Sonskyn oor 40 jaar gegroei tot ’n instelling waar dienslewering, gemeenskap en ondersteuning steeds sentraal staan.



