Henry John du Plessis van Bethlehem hou sy boek, My Lewe in ‘n Hartklop, vas waarin hy sy aangrypende reis deur eindstadium-nierversaking, dialise en twee nieroorplantings deel.

Ná twee nier-oorplantings bring onderwyser boodskap van hoop

Henry John du Plessis van Bethlehem hou sy boek, My Lewe in ‘n Hartklop, vas waarin hy sy aangrypende reis deur eindstadium-nierversaking, dialise en twee nieroorplantings deel.

Toe Henry John du Plessis (27) in sy matriekjaar hoor sy nierfunksie is slegs 6%, het sy lewe binne oomblikke onherroeplik verander.

Vandag, ná twee nieroorplantings, deel hy sy lewensverhaal in die boek My Lewe in ‘n Hartklop – ‘n verhaal van verlies, geloof en hoop waarmee hy ander wil bemoedig.

Du Plessis, wat in Bethlehem woon en as onderwyser werk, het in 2017 ernstig siek geword.
Ná verskeie mediese ondersoeke het dokters vasgestel dat hy aan eindstadium-nierversaking ly en dringend met hemodialise moes begin.

Hy het later sy eerste nieroorplanting ontvang, maar die oorgeplante nier het ongelukkig misluk en hy moes weer met dialise begin. Daarna het hy ‘n tweede nieroorplanting ontvang, wat vandag steeds goed funksioneer en hom in staat stel om weer ‘n aktiewe en vol lewe te lei.

Du Plessis, wat aan die Hoërskool Witteberg gematrikuleer en daarna ‘n B.Ed.-graad in Intermediêre Fase Onderwys voltooi het, beskryf sy pad as een van uitdagings en onsekerheid.

Terselfdertyd sê hy dit was ook ‘n reis waarop hy God se genade, sy familie se onwrikbare ondersteuning en die omgee van talle mense op ‘n besondere manier ervaar het. Hy beskryf sy ouers, Bernard en Veny du Plessis, as sy grootste steunpilare wat hom deur die moeilikste jare gedra en geleer het om nooit moed op te gee nie.

Hoewel sy gesondheid nou stabiel is, beklemtoon hy dat ‘n nieroorplanting nie ‘n genesing is nie, maar ‘n tweede kans. Daarom gebruik hy sy medikasie stiptelik, woon gereelde opvolgafsprake by en bly hom voortdurend oor niersorg, oorplantings en nuwe mediese ontwikkelings inlig om sy gesondheid verantwoordelik te bestuur.

Volgens Du Plessis het hy My Lewe in ‘n Hartklop geskryf omdat hy glo sy verhaal ander kan bemoedig en bewustheid oor orgaan-, weefsel- en bloedskenking kan bevorder. Hy hoop die boek sal lesers wys dat daar selfs in die donkerste omstandighede altyd rede is om aan hoop vas te hou.

Die boek vertel sy verhaal van nierversaking, dialise, twee nier-oorplantings en die pad van verlies, geloof en hoop. Dit getuig van die krag van liefde, volharding en geloof en herinner lesers daaraan dat lig selfs in die donkerste tye gevind kan word.

Mense wat meer oor die boek wil uitvind of ‘n eksemplaar wil bekom, kan Du Plessis per e-pos by henryduplessis07@gmail.com kontak. Hy is ook op Facebook as Henry du Plessis en op Instagram by @henry_duplessis en @myleweinhartklop.

Sy lewensmotto is: “Moet nooit hoop verloor nie. Soms verander God nie jou omstandighede dadelik nie, maar Hy gee jou die krag om daardeur te gaan. Solank daar hoop is, is daar altyd ‘n rede om aan te hou.”

Du Plessis se boek My lewe in 'n Hartklop waar hy sy ware verhaal met lesers deel. Foto: Verskaf
Du Plessis se boek My lewe in ‘n Hartklop waar hy sy ware verhaal met lesers deel. Foto: Verskaf
NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article