Dehan Cilliers van die Hoërskool Voortrekker in Bethlehem is vir die Suid-Afrikaanse atletiekspan gekies. Dié 15-jarige het vanjaar vier medaljes op nasionale vlak gewen. FOTO: Verskaf

Bethlehem-atleet (15) verwerf Groen en Goud

Dehan Cilliers van die Hoërskool Voortrekker in Bethlehem is vir die Suid-Afrikaanse atletiekspan gekies. Dié 15-jarige het vanjaar vier medaljes op nasionale vlak gewen. FOTO: Verskaf

Die 15-jarige Dehan Cilliers, ‘n gr. 9-leerder aan die Hoërskool Voortrekker in Bethlehem, gaan van 31 Augustus tot 3 September Suid-Afrika op die Confederation of Schools Sport for Southern Africa- (Cossasa) atletiekkampioenskap in Zimbabwe verteenwoordig nadat hy ná ‘n uitsonderlike seisoen sy plek in die nasionale o.17-span losgehardloop het.

Dehan het onlangs die nuus ontvang dat hy die Groen en Goud sal aantrek – die beloning vir maande se harde werk en ‘n seisoen waarin hy hom as een van Suid-Afrika se voorste jong middel- en langafstandatlete gevestig het.

Hy het vanjaar vier medaljes op nasionale vlak verower. Dit sluit in twee bronsmedaljes in die 3 000 m in die ASA Suid-Afrikaanse kampioenskap en die Suid-Afrikaanse skole-atletiekkampioenskap.

Hy het ook ‘n silwermedalje in die 1 500 m in die Suid-Afrikaanse skole-atletiekkampioenskap verwerf, waarna hy sy plek in die nasionale span verdien het.

Dehan het sy seisoen verder versterk deur ‘n silwermedalje in die o.16-afdeling van die ASA Street Mile te verower. Agter sy sukses staan sy pa en afrigter, Ebanie Cilliers, wat hom reeds van gr. 1 af afrig en hom deur elke fase van sy atletiekloopbaan ondersteun.

Vir Dehan is die toekenning van Suid-Afrikaanse kleure die hoogtepunt van ‘n merkwaardige jaar waarin sy talent, deursettingsvermoë en ure se harde werk op die baan beloon is. Nou wag die geleentheid om hom teen die beste jong atlete in Suider-Afrika te meet en die Suid-Afrikaanse vlag met trots te dra.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article