’n Droom het onlangs vir die 44-jarige Yolandie van Jaarsveld waar geword toe sy met Renault Suid-Afrika se gesogte eerbewys vir Diensadviseur van die Jaar vereer is.
Van Jaarsveld, wat van Bethlehem afkomstig is, werk sedert Januarie 2022 by Bethlehem Multifranchise. Sy het aanvanklik as voertuigvoorraadbeheerder by die onderneming begin werk, maar toe daar later in 2022 ’n betrekking in die diensafdeling beskikbaar raak, het sy onmiddellik die geleentheid aangegryp.
Die toekenningsgeleentheid vir die Dealer of the Year-pryse is 26 Mei by The Maslow Hotel in Pretoria aangebied waar Van Jaarsveld die eerbewys ontvang het.
As hoofdiensadviseur by Renault behartig sy nie net kliëntediens nie, maar ook alle waarborgeise. Volgens haar word die eerbewys toegeken op grond van ’n bepaalde gemiddelde kliëntetevredenheidsyfer wat deur die jaar gehandhaaf moet word.
“Ek is oorweldig deur blydskap en is ongelooflik dankbaar. Dit voel of ek uiteindelik my doel bereik het,” sê sy.
Sy het in 2000 aan die Bethlehem Voortrekker Hoërskool gematrikuleer en vertel dat haar liefde vir motors reeds van kleins af begin het.
“As kind het ek altyd oor hierdie werk gedroom. Ek was nog altyd lief vir motors en einlik ‘n regte petrolkop wat meer van voertuie as van grimering weet.”
Haar loopbaan in die motorbedryf het in 2012 begin nadat sy tydens ’n kuier deur Lorraine en Trevor Scott gevra is of sy belang sou stel om by hulle onderneming te werk. Hoewel sy daardie aand huis toe is sonder om ’n besluit te neem, het Trevor se woorde by haar bly vassteek.
Die volgende oggend het sy navraag gedoen en kort daarna ’n formele werksaanbod ontvang waarna haar loopbaan in die motorbedryf begin het. Van Jaarsveld beklemtoon dat sulke prestasies nie deur een persoon alleen bereik word nie.
In 2023 het die diensafdeling reeds ’n goue eerbewys as Hyundai Suid-Afrika se Dienshandelaar van die Jaar ontvang, maar hierdie is haar eerste persoonlike eerbewys by Renault Suid-Afrika.
“Dit verg ’n span wat saamstaan en saamwerk. Sonder my kollegas sou ek nooit hierdie prestasie kon behaal het nie.”
Volgens Van Jaarsveld is die daaglikse interaksie met kliënte een van die aspekte van haar werk wat sy die meeste geniet. Baie van haar kliënte het oor die jare heen goeie vriende geword en sy geniet ook die verskeidenheid voertuie waarmee sy werk.
Sy het haar dank uitgespreek teenoor almal wat tot haar sukses bygedra het, veral haar pa, Frikkie van Jaarsveld, haar oorlede ma, Ronel, haar broer, Eben van Jaarsveld, asook die span van Bethlehem Multifranchise. Haar handelaarshoof Philip Jacobs sê hulle is trots op Van Jaarsveld.




