Eeue nadat hulle uit die paradys gesmyt is, besin Adam en Eva oor die huwelik.
Kyk hier, dit was nie maklik om die proto-paartjie te wees nie, hoor?
Alles moes ‘n eerste keer uitgepluis word: liefde, kinders en huishou.
Noudat die laatlammetjie die huis verlaat, het Adam en Eva weer binnekort net mekaar vir geselskap.
Sien hulle kans vir nog ‘n honderd jaar saam, en sal hulle sondes hulle ontsien?

Ná baie goed en kwaad het Adam en Eva vir oulaas ‘n appeltjie met mekaar te skil.
Twee van die land se mees gedugte storievertellers span kragte saam om die oorspronklike “power couple” te vertolk ‘n klassieke geval van “he said, she said”.
Eva, wat gespeel word deur Margit Meyer-Rödenbeck, is ‘n gefrustreerde kunstenaar wat eindelik ‘n beurt kry om haar kant van die storie te vertel: die liefde en leed van die eerste moeder en huisvrou.
Adam, gespeel deur Frank Opperman, glo ook hy het dit nie maklik gehad nie. Die handboek vir menswees is eers ná sy tyd geskryf.
Eerste vir alles is ‘n romantiese komedie oor ou bene saam maak, veral as een die ander ‘n ribbebeen skuld.
Die teaterstuk wat vir die Suidoosterfees en die Vrystaat Kunstefees deur die Het Jan Marais Nasionale Fonds gemaak is, is binnekort op die fees in Bloemfontein te sien.
Eerste vir alles word opgevoer in die Wynand Mouton-teater op 7 Julie om 20:00; op 8 Julie om 10:00; op 9 Julie om 09:00 en op 10 Julie om 09:00.
Kaartjies vir die vertoning kan op webtickets.co.za bespreek word om ‘n plek in die gehoor te verseker en teleurstelling te voorkom.






You must be logged in to post a comment.