Inwoners van die Vrystaat-Nasorgsentrum wie se produkte nie op dié sentrum se markte verkoop word nie, se handewerk spog vanjaar op Bloemskou.
Elmarie Prinsloo, uitvoerende hoof van Bloemskou, het op Dinsdag 7 April die handgemaakte produkte by die nasorgsentrum in ontvangs geneem.
Liana van Heerden, arbeidsterapeut by die nasorgsentrum, sê dit was baie opwindend vir die groepie om hul werk te wys.

“Hulle werk in verskillende werkswinkels vir mense met verstandelike inperkings by die Vrystaat-Nasorgsentrum. Op Woensdae kom dié groep byeen om te werk aan handwerk-artikels, wat borduurwerk en tolletjiebrei insluit. Enrico du Toit is die man wat fluks voor vat en sommer binne ‘n uur ‘n vatlappie kan hekel,” sê sy. “Hy help ook die ander om hul produkte mooi af te werk.”

Prinsloo sê dit is vanjaar die eerste keer in Bloemskou se geskiedenis dat daar by die kreatiewe handwerk en kuns ‘n afdeling is vir mense met verstandelike inperkings.
“Dit is lekker om hierdie artikels te sien, wat nogal volgens vanjaar se Bloemskou-tema, ‘Beach Party’, gemaak is.”
Bloemskou het toegangskaartjies aan die lede van dié groepie geskenk sodat hulle na hul inskrywings op die skou kan gaan kyk.
Bloemskou duur vanjaar van 23 April tot 2 Mei.






You must be logged in to post a comment.