Wat teatergangers op die verhoog op die Vrystaat Kunstefees sien, is net die kersie op die koek.
“Teater is harde werk, en die uur of wat op die verhoog is die uiteinde van maande se voorbereiding.”
Só gesels gesoute akteur, regisseur en komediant Margit Meyer-Rödenbeck op Maandag 6 Julie, pas nadat sy in Bloemfontein geland het vir vanjaar se fees.
“Ons is almal verslaaf aan die adrenalien van die verhoog. Dit bly lekker.”
Sy is vanjaar op die verhoog in twee produksies: Ouma en die ou koeie en Eerste vir alles, saam met Frank Opperman.
“Ek en Frank praat nou al 27 jaar daaroor om saam iets te doen; jy weet, soos om vir ‘n vriend te sê ons moet braai. Verlede jaar het ons besluit, dit is nou tyd. Eerste vir alles is ‘n wonderlike produksie en groot pret. Dis ‘n romantiese komedie van Adam en Eva se eerstes. Eerste liefde. Eerste kind. Eerste alles. En ná 600 jaar saam en 56 kinders, is alles nie meer so rooskleurig nie…”
Van Dowwe Dolla tot Ouma – Margit geniet dit om mense te laat skaterlag.
“Dis so bevrydend om ontslae te wees van Dolla se stiletto’s. Ek geniet die rol van Ouma. Sy is meer menslik as Dolla.”
Ouma kry haar stekies in – en hoë politieke bome word nie ontsien nie.

“Een van die hoogtepunte van ‘n fees is om ou bekendes raak te loop.”
Margit het dit skaars gesê, toe Chris van Niekerk al brommend daar aankom op soek na die feeskantoor.
Sekondes later is die twee diep aan die kuier oor wat alles in hul lewe aangaan.
“Die lekkerste van die fees is die sit en kuier tussen die vertonings. Die opvang en vertel,” sê Margit.
Chris is te sien in die vertonings in die Naval Hill Planetarium Die klein prinsie, ook in Engels The Little Prince, en die vertoning wat hy baie geniet, Teken vir my ‘n vliegtuig.
Al sy vertonings is nog tot Saterdag in die planetarium te sien.
“Ek hou baie van dié teater,” sê Chris.
Dit is die perfekte lokaal vir die vertoning wat deur Bloemfontein se Naòmi Morgan vertaal is. Die klein prinsie is die bekende verhaal van die vriendskap tussen ‘n vlieënier en ‘n klein, blonde seuntjie met die versoek: “Teken vir my ‘n skaap?”
Die fees duur nog tot Saterdag.







You must be logged in to post a comment.