Die naam het dadelik ‘n klokkie gelui. Die uitnodiging van Naln het gelees dat Gerald Groenewald gaan kom gesels oor M.E.R. en haar verhouding met president Steyn.

Professor Gerald Groenewald.

Die foto wou-wou bekend lyk, maar ek was onseker. Ek onthou woorde en name maklik, maar ek sukkel met gesigte, veral as ek daardie gesig meer as 30 jaar gelede laas gesien het. Die leerder wat stil in die Engels-klas gesit het en wat so lief was vir lees dat ek hom saam met my na die leeskring gesleep het.

Destyds was ek en Gerald die enigste twee mans wat op die eerste Maandag van elke maand die Bethlehem-leeskring se vergaderings bygewoon het. Die jong Engels-onderwyser en die leerling. Die tannies het ons bederf met koek, tee, en natuurlik boekbesprekings.

‘n Oproep na Annelien Diedericks by Naln het bevestig ek het nie die kat aan die stert beet nie.

“Gerald is hier by my, wil jy met hom praat?” Die stem was dadelik bekend. Dit was die regte Gerald. Ek was nie verbaas nie.

Gerald se passie vir geskiedenis en letterkunde wat reeds op skool duidelik was, het hom in die rigting van die akademie gestuur; sy navorsing in albei vakke het sy loopbaanpad uitplavei; en hy was nou deur die gode van geleentheid na Bloemfontein gelei vir navorsing.

Natuurlik moes ons opvang.

Gelukkig was Gerald vir nog ‘n dag of wat in die stad, en kon ons oor ‘n koffie gesels oor die goeie ou dae en die uitdagings van die huidige. Ek het weer besef hoeveel rykdom die herinneringswêreld van ‘n onderwyser bied. Vir my is dit elke keer ‘n voorreg om ‘n oudleerling raak te loop, die ver paaie van die verlede te gaan stap en “onthou jy nog?”-stories te deel.

Dis immers ons stories wat ons ryk maak.

Elke storie-herinnering is soos ‘n biblioteekboek in die brein wat – wanneer dit van die rak afgehaal, oopgemaak, gelees, en dan weer teruggeplaas word – nie in rakruimte teruggaan na al die jare gelede nie, maar na ‘n nuwe plek op die rak. Vars bladsye vir nuwe onthou.

Soos ‘n boek en fliek altyd anders is wanneer ons dit weer lees, want ons het verander, so verander ons stories ook wanneer ons vriende uit die verlede ontmoet. Hoe heerlik is dit dan om agter te kom dat hulle ten spyte van titel en sukses lief gebly het vir stories, geskiedenis, koffie, en die rykdom wat gedeelde ervaringe bring.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article