Terwyl ons vakansiereëlings tref het ek met die een oog die nuus dopgehou. Die gerugte oor onrus en optogte weens xenofobie kon dalk ons reisreëlings beïnvloed. Veral omdat ons in Natal sou wees – die brandpunt van die politieke chaos in Julie ‘n paar jaar gelede. Mediaverslae en hoofopskrifte was uiteenlopend. Onwettige immigrante was onwelkom, het sommige beweer, ander het weer hart getoon vir mense wat bereid was om hard te werk in ‘n vreemde land.
Die eerste middag by die strandoord op die paadjie see toe was daar ‘n spel van kleurige kunswerke. ‘n Tou tussen boomtakke het die ruggraat vir die galery gevorm. Die kunstenaar eenkant. Sy handtekening onder aan elke skildery: Tobias. Tobias se werke was uitspattig-vrolik. Hy was stiller. Bewerige hande wanneer hy gesels. “I am from Malawi.”
Sy styl was nie die van ‘n verkoopsman nie, geen druk om sy kuns te koop nie. Hy was nie seker wanneer hy weer sy werk sou kom “uitstal” nie. “I am worried about the xenophobia things. And I am afraid to go and buy paint.”
Die mediaberigte oor xenofobie het nou ‘n gesig gehad. ‘n Sagte, vriendelike stem. ‘n Innemende glimlag. ‘n Ou T-hemp vol verfspatsels. Gedaan geloopte skoene. Ek het genoem dat ons van Bloemfontein kom, en hy het onderneem om iewers gedurende die week ‘n skildery van Bloemfontein te maak. Hy het sy woord twee dae later gestand gedoen met ‘n geverfde vrouemonument en ‘n paar vrolike geboue, iewers die woorde “Welcome to Bloomfontan, City of Rose” en “Social Problem”. Ons koop dit. Dit kan ‘n verskil maak. Verf en materiaal vir sy volgende skildery.
Later daardie week is daar nuusberigte oor vlugtende Malawiërs in Durban en omgewing. Foto’s van mense wat alles moes agterlaat en vlug vir hulle lewe. Ek Whatsapp vir Tobias om te vra hoe dit gaan. Hy antwoord met ‘n foto van ‘n taxi en ‘n boodskap: “The family of Mr Mrs igno ur, support help us to go away from Durban after the community pressurise us to leave the area god bless ur family that money bought ticket. U saved me from victim.”
Daar is steeds beriggewing met woorde soos xenofobie, ekonomie en immigrasiebeheer. Nuus is informatief maar afstandelik. Dis eers wanneer ‘n berig ‘n gesig en ‘n stem kry dat ‘n mens weer besef dat die woorde wat in die nuus verskyn dikwels mense en hul stories laat verdwyn. Mense soos Tobias wat met kuns en kleur ‘n wêreld probeer verf waarin hy ook kan leef.




