Soos ‘n goed-opgestelde renmotor het JJK Raceway uit die wegspringblokke geskiet en binne enkele maande tot een van Kroonstad se mees opwindende nuwe sportklubs ontwikkel.
Nuwe belangstellendes word voortdurend by die klub verwelkom. Die jongste renjaer hier is ses jaar oud, en die oudste is 73. Mans en vroue ding op gelyke vlak mee.
Aan die stuur van sake is klubkaptein Juan Kleingeld, ‘n bekende figuur in gleufmotor-kringe.

Kleingeld se kundigheid in die opstel van motortjies word hoog aangeskryf en hy giet bande wat plaaslik sowel as landswyd deur ander klubs gebruik word. Die motortjies is op ‘n 1:32-skaal en handelsname soos Ninco, Revo Slot en Slot.it is op die baan te sien.
‘n Hoogtepunt op die kalender van die nuutgestigde klub was die byeenkoms wat op Saterdag 17 Januarie aangebied is.
Renjaers van Gauteng en Bloemfontein het saam met plaaslike deelnemers meegeding. Altesaam 40 inskrywings is ontvang, en die dag word as ‘n reuse-sukses beskryf. Deelnemers kon in junior, vroue-, veterane- en algemene afdelings meegeding.
Anton Brewis van die Rand het as algehele wenner geëindig.
Die gleufmotorbaan was voorheen in besit van Auto Affairs in Gauteng en is ná die laaste wedren op 28 Junie verlede jaar verkoop. ‘n Groep oudklublede van Kroonstad, onder leiding van Juan Kleingeld wat vir jare ‘n baan by sy huis bedryf het, het die geleentheid raakgesien en die baan aangekoop.
Die soektog na ‘n geskikte perseel het gevolg, totdat die groen lig op 10 Julie gekom het.
Charles Frost van Charles Elektries, pa van klublid Charlie Frost, het ‘n perseel op die hoek van Schoeman- en Pellissierstraat in Suidrand, langs die Suidrand Kafee, vir die klub beskikbaar gestel.
Twee dae later, op 12 Julie, is die baan in Johannesburg gaan haal en JJK Raceway is amptelik met vyf lede gestig.
Gleufmotor-wedrenne is ‘n wêreldwye sportsoort wat bykans elke naweek landwyd aangebied word. Die kompetisie is uiters straf en uitslae word soms deur slegs enkele sentimeters beslis. Tye en afstande word deur rekenaartegnologie gemeet en punte word oor ‘n hele jaar opgehoop om algehele posisies te bepaal.
Die eerste ronde in Kroonstad is op 2 September verlede jaar beslis, en ‘n suksesvolle ope dag op 4 Oktober het gevolg. Die klub het intussen tot 29 lede gegroei.
Die klub se groei word versterk deur die ondersteuning van plaaslike sakeondernemings wat draaie borg en noodsaaklike toerusting skenk. Lede dra ook self by deur geldelike insette en praktiese vaardighede aan te bied. Die klub is nie winsgedrewe nie, en ledegeld van R50 per maand word gehef om basiese uitgawes te dek.
JJK Raceway is elke Donderdag van 16:00 af vir die publiek oop en nuwelinge kan hul eerste maand met ‘n leenmotortjie begin. Amptelike klubwedrenne vind Donderdae tussen 18:30 en 21:00 plaas.
Belangstellendes kan Kleingeld by 083 417 6387, Dries du Toit by 082 429 6634 of Willie Marais op 083 691 7883 kontak vir meer inligting.





You must be logged in to post a comment.