Gemeenskap, vriende en geliefdes groet Marie van Zyl dán vir oulaas

Wyle Marie van Zyl.
Wyle Marie van Zyl. FOTO: NG Kerk Bethlehem-Éfrata op Facebook

Gemeenskap, vriende en geliefdes groet Marie van Zyl dán vir oulaas


Die lewensviering van Marie van Zyl sal op Donderdag 8 Oktober om 11:00 in die NG kerk Bethlehem-Éfrata plaasvind.

Kleredrag vir die geleentheid moet semiformeel en kleurryk wees, en na afloop van die diens sal ‘n skaapspit-ete plaasvind. Mense wat die lewensviering gaan bywoon, word versoek om dit teen Dinsdag 6 Oktober met Elna Macklin by 072 378 3953 te bevestig.

Beserings van motorongeluk eis lewe

Huldeblyke en boodskappe van medelye het vanuit verskeie oorde ingestroom nadat die nuus bekend geword het dat Marie, bekende inwoner van Bethlehem en mede-eienaar van Cheetau Game Lodge buite die dorp, oorlede is. Sy het op 20 September kort ná 18:00 in die hospitaal gesterf, het ds. Dougy Bubb van die Éfrata-gemeente in ‘n boodskap bevestig.

Marie en haar man, Bok, was op 5 September in ‘n motorongeluk op die N1 tussen Colesberg en Bloemfontein betrokke. Hul voertuig het teen ‘n vragmotor gebots. Marie het ernstige kopbeserings opgedoen en is in die hoësorg-eenheid van die Life Rosepark-hospitaal in Bloemfontein behandel. Sy het twee weke lank om haar lewe geveg.

LEES OOK: Mede-eienaar van lodge by Bethlehem sterf ná ongeluk

Bok is ook in die ongeluk beseer, maar is behandel en het volgens inligting daarna stabiel gebly en goed aangesterk.

Marie as “hartsmens” beskryf

Die nuus van Marie se dood het talle mense diep geraak, met vriende, kennisse en mense wat haar deur Cheetau Game Lodge geken het, wat hul herinneringe aan haar gedeel het.

Steffanie van Zyl het op Facebook geskryf dat sy “nie woorde” het nie en het Marie as ‘n “hartsmens” beskryf.

“My kuiertjies by Cheetau sal ek vir altyd in my hart koester, en al die baie mooi herinneringe. Jou omgee en jou liefde vir jou medemens. Rus sag, liefste Marie. Jy los ‘n baie groot leemte,” het sy geskryf.

Johane Odendaal het Marie as ‘n “pragtige, dinamiese vrou met soveel dryfkrag en passie” beskryf.

“Tannie het ‘n verskil gemaak,” het Odendaal geskryf.

LEES OOK: Pa, dogter van Bethlehem sterk aan ná ongeluk op pad skool toe

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article