Die ouditeur-generaal Tsakani Maluleke het tekortkominge by rioolwatersuiweringswerke in Kroonstad en Viljoenskroon uitgewys.
Volgens die verslag het die Moqhaka Plaaslike Munisipaliteit versuim om die storting van rou en onbehandelde riool in riviere en grondwater te voorkom. Riool beland in die Valsrivier by Kroonstad en die Olifantsdrifrivier by Viljoenskroon, asook die omliggende waterstelsels.
Die ouditeur-generaal bevind dat die munisipaliteit nie redelike stappe gedoen het om die besoedeling te voorkom, te beëindig of te keer dat dit herhaal nie. Volgens die verslag is bepalings van die Nasionale Wet op Omgewingsbestuur en die Nasionale Waterwet oortree.
Die DA het aangekondig dat die party die Departement van Water en Sanitasie, asook die Moqhaka Plaaslike Munisipaliteit, skriftelik sal versoek om dringend in te gryp en toesig te verskerp sodat regstellende maatreëls ingestel kan word.
Volgens Maluleke is die omvang van die besoedeling sodanig dat dit as “wesenlike skade aan die algemene publiek” geklassifiseer is.
Die aangeleentheid is op 27 Februarie 2024 na die Departement van Water en Sanitasie vir ondersoek verwys. Die ondersoek duur steeds voort.
Die invloei van rou riool in riviere en grondwater hou gesondheidsgevare vir inwoners in. Siektes weens besoedelde water, die besoedeling van drinkwaterbronne en skade aan die omgewing is van die risiko’s waarmee gemeenskappe langs die Valsrivier- en Olifantsdrifrivierstelsels, asook stroomaf geleë plase, gekonfronteer word.



