In ‘n verklaring van die departement van landbou en landelike ontwikkeling is bevestig dat bek-en-klouseer in die Vrystaat versprei het en dat waaksaamheid nou van kritiese belang is.
Die department het op Vrydag 17 Oktober tydens ‘n Gesamentlike Operasionele komitee-vergadering (JOC) oor bek-en-klouseer, bevestig dat Sasolburg as ’n nuwe bek-en-klouseer gebied verklaar is.
Dit terwyl die Viljoenskroon/Vredefort-gebied ook ’n geval in Parys aangemeld het. In Kroonstad wag die uitslag van ’n moontlike geval, terwyl verskeie ander reeds negatief getoets het.
Die department het bygevoeg dat die tweede ronde van inentings behoort teen volgende week in sekere gebiede afgehandel te wees.
Volgens die jongste terugvoer wag abattoirs in die betrokke gebiede op goedkeuring om weer met uitslag te begin. ’n Plaas se kwarantyn kan slegs ses weke ná volledige uitslag en ontsmetting opgehef word.
Sedert die uitbreking in 2022 en die huidige toename in gevalle, is duisende dosisse entstof reeds in die Vrystaat toegedien. Die departement het bevestig dat geen newe-effekte van die entstof tot dusver aangemeld is nie.
Vrystaat Landbou (VL) se vise-president, Friedl von Maltitz, het in die vergadering daaraan herinner dat VL reeds verlede jaar voorgestel het dat vee wat oor provinsiale grense vervoer word, slegs met ’n veeartspermit en nie bloot met ’n eienaarsverklaring geskuif mag word nie.
Die departement het kennis geneem van die voorstel, maar wys daarop dat die tekort aan staatsveeartse die implementering daarvan bemoeilik, veral in kombinasie met die inentingsproses.
Die Viljoenskroon-gebied bly die ergste geraak met 25 bevestigde gevalle en nog 15 moontlike gevalle wat in die rigting van Vredefort versprei het. Gebiede waar nuwe gevalle aangemeld is, toon dat boere hul pligte nakom deur gevalle vinnig aan te meld, wat help om verspreiding onder beheer te bring en te bekamp.
“Boere wat nie die simptome van bek-en-klouseer betyds aanmeld nie, stel die opheffing van kwarantyn ernstig in gevaar en verhoog die risiko van verdere besmetting,” sê Von Maltitz.
Hy beklemtoon dat boere daagliks hul vee moet monitor en onmiddellik enige moontlike tekens van die siekte moet aanmeld.
“As ’n boer vermoed ’n dier is besmet, kan hy eenvoudig ’n foto of video aan sy plaaslike veearts of dieregesondheidstegnikus stuur,” sê Von Maltitz.
“Op dié manier beskerm ons kritiese mannekrag en help elke boer om die Vrystaatse veesektor te beskerm.”
Vrystaat Landbou doen ’n ernstige beroep op alle boere om waaksaam te bly en volledig samewerking te gee aan die departement van landbou en landelike ontwikkeling in die poging om die uitbreking te beheer en verdere verspreiding te voorkom.





