Die Hoërskool Witteberg in Bethlehem se hoofmeisie, Jané de Villiers, was een van die 14 finaliste in vanjaar se Matrikulant van die Jaar-kompetisie wat deur Universiteit van die Vrystaat (UV) en Novus Media vir die 44ste keer aangebied is.
Deelnemers van oor Suid-Afrika heen kon vir die kompetisie inskryf wat ‘n besonderse hoë standaard handhaaf.
“Dit is beslis ‘n merkwaardige prestasie om uit meer as 60 inskrywings van oor die land heen as ‘n finalis op grond van uitnemende akademiese, leierskap-, sport- en kultuurprestasies, asook gemeenskapsbetrokkenheid gekies te word,” sê Gustav Dreyer, bemarkingshoof van Witteberg.
Jané het op 13 en 14 Oktober aan die eindronde in Bloemfontein deelgeneem. In die twee dae is met finaliste onderhoude gevoer en verskeie aktiwiteite is aangebied.
Finaliste kon ook ‘n blik kry op die Kovsie-kampus se studentelewe. Die kompetisie is op 14 Oktober tydens ’n glansgeleentheid saam met al die borge en ouers van die finaliste by die Monte Bello-landgoed buite Bloemfontein met ‘n gala-dinee afgesluit.





