Die weg is nou oop vir veeboere om uit eie beweging bek-en-klouseer- (BKS) entstowwe te bekom en toe te dien nadat ‘n hooggeregshofbevel die skikkingsooreenkoms in die langdurige hofstryd tussen Vrystaat Landbou (VL), Sakeliga, die Suid-Afrikaanse Instituut vir Agri-ontwikkeling (Saai) en die minister van landbou bekragtig het.
Die hofbevel bring volgens VL groter regsekerheid vir veeboere wat hul kuddes teen die verspreiding van BKS wil beskerm. Die landbou-organisasie verwelkom die beslissing as ‘n belangrike deurbraak in die stryd teen die siekte en meen dit beëindig die staatsmonopolie wat volgens hom boere se vermoë om self op BKS-uitbrake te reageer, beperk het.
LEES OOK: Bek-en-klouseer: Vinnige optrede oor bewerings van gelaaide pryse geloof
Friedl von Maltitz, vise-president van VL, sê die hofsaak het egter ook dieper probleme met Suid-Afrika se benadering tot dieresiektebeheer blootgelê. Volgens hom het die sektor waardevolle tyd verloor terwyl daar weerstand teen die regstappe was.
“Indien die bedryf vroeër ‘n verenigde front aangebied het, kon maande van administratiewe dooiepunt vermy gewees het,” sê Von Maltitz.
Hy meen dié vertragings het ‘n groot koste vir veeboere gehad, met handelsontwrigting en verliese binne kuddes wat volgens hom vermy kon word.
Volgens VL plaas die hofbevel ook die fokus op die land se breër biosekuriteitstelsel en die hantering van BKS. Von Maltitz meen veeboere is jare lank aan ‘n gesentraliseerde stelsel onderwerp waarin private ingryping beperk is, terwyl ‘n omvattende nasionale strategie om die siekte doeltreffend te beperk en te bekamp, volgens hom nie gelewer is nie.
“Die afwesigheid van ‘n effektiewe, deursigtige en skaalbare nasionale bek-en-klouseerstrategie het Suid-Afrika se veesektor blootgestel aan herhalende biosekuriteitskrisisse,” sê hy.
Die organisasie doen nou ‘n beroep op die regering om die bestuur van dieresiektes dringend te hersien.
LEES OOK: Foot-and-Mouth Disease vaccine intellectual property to be opened up
VL sê gekwalifiseerde en verantwoordbare kundiges met toepaslike kennis van biosekuriteit moet ‘n groter rol speel in die bestuur van dieresiektes en dat daar nouer met kommersiële én opkomende produsente saamgewerk moet word.
“Dit is duidelik dat die huidige owerhede en amptenare wat getaak is met die toesig oor die bestuur van dieresiektes nie die visie, dringendheid en tegniese vermoë het wat nodig is om Suid-Afrika se landbou-ekonomie te beskerm nie,” sê Von Maltitz.
Die hofbevel beteken volgens VL dat die regsposisie vir boere om BKS-entstowwe te bekom en toe te dien, nou duideliker is.
Die organisasie waarsku egter dat die hofbeslissing nie die behoefte aan streng biosekuriteit wegneem nie.
VL doen ‘n beroep op veeboere om voort te gaan met streng biosekuriteitsmaatreëls en om geakkrediteerde privaat veeartse te raadpleeg voordat hulle met inenting begin.
Volgens die organisasie moet die hofbevel uiteindelik nie net as ‘n oorwinning in ‘n regstryd beskou word nie, maar as ‘n geleentheid om Suid-Afrika se hele benadering tot dieresiektebeheer te heroorweeg. Die organisasie sê hy sal voortgaan om boere se regte te verdedig en vir hervorming van die land se biosekuriteitstelsel te druk.



