Bek-en-klouseer: Aanmeld van gevalle en aansoeke om gratis inenting kritiek

Diere met gesplete hoewe, onder meer beeste, word deur bek-en-klouseer geraak.
Diere met gesplete hoewe, onder meer beeste, word deur bek-en-klouseer geraak. FOTO: Madli Grobbelaar

Die Vrystaatse departement van landbou en landelike ontwikkeling bestuur ‘n grootskaalse inentingsveldtog om die verdere verspreiding van bek-en-klouseer (BKS) te bekamp.

Die departement het op Vrydag 6 Maart bevestig 200 000 dosisse van die Biogenesis Bago-entstof is op 25 Februarie ontvang, waarna die veldtog onmiddellik in al vyf distrikte van die Vrystaat begin is.

Tot dusver is reeds meer as 43 431 beeste ingeënt.

Owerhede beklemtoon dat inenting gratis is en boere word aangemoedig om daarvan gebruik te maak. Die department sê aansoeke vir inenting is oop, en ‘n groot aantal is reeds ontvang. Boere moet daarop let dat nie alle aansoeke in die eerste fase van die veldtog goedgekeur sal word nie, aangesien hoërisikogebiede voorkeur kry in ‘n doelgerigte strategie om die siekte so vinnig moontlik onder beheer te bring.

Boere word nietemin aangemoedig om steeds aansoek te doen, aangesien die inligting noodsaaklik is vir die beplanning van die volgende fases van die inentingsprogram en om die toekomstige behoefte aan entstowwe akkuraat te bepaal.

LEES OOK: Byna 50 000 diere reeds teen bek- en klouseer ingeënt in Wes-Kaap

Intussen geld streng bewegingsbeperkings steeds, veral op plase binne ‘n radius van 10km van besmette gebiede. Betrokke plase is onder kwarantyn geplaas, terwyl omliggende plase ook onder voorsorgkwarantyn geplaas is totdat verdere monitering kan bepaal of die siekte versprei het.

Die departement het ernstige kommer uitgespreek oor ‘n toename in versuim om gevalle van bek-en-klouseer aan te meld. Amptenare waarsku dat dit nie net ‘n strafbare oortreding is nie, maar ook die doeltreffende beplanning van inentingsveldtogte ernstig belemmer.

Ses nuwe gevalle was teen Vrydag bevestig: in die omgewing van Qwaqwa en Harrismith; Kroonstad; Boshof en Bultfontein; Reitz en Lindley; Parys en Vredefort; en Thaba Nchu. Dit bring die aantal bevestigde gevalle in die Vrystaat op 386 te staan.

Die departement meen dat bek-en-klouseer ‘n ernstige bedreiging vir die provinsie se veeboerdery en landbou-ekonomie inhou.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article