Die VKB Bieliemieliefees vir 2026 beloof drie dae van kuier, kultuur en hope vermaak in Reitz.
Die fees bly jaar ná jaar ‘n toonbeeld van gemeenskapsgees, gasvryheid en uitbundige feesviering. Getrou aan die bekende sêding “hoe meer siele, hoe meer vreugde”, bring hierdie geliefde geleentheid oor drie dae mense van oor die land heen bymekaar om nuwe vriendskappe te smee en ou bande te versterk.
Wanneer die feesterrein se hekke op Donderdag 26 Februarie om 12:00 oopmaak, wag daar weer ‘n vol program wat besoekers tot Saterdagaand laat sal vermaak.
Die organiseerders belowe ‘n ervaring wat iets vir elke lid van die familie bied – van vermaak en kompetisie tot kulinêre genot met ‘n suiwer Vrystaatse kuierkultuur.
Die Bieliemieliefees het hom oor die jare gevestig as een van Suid-Afrika se grootste en gewildste landbou- en gemeenskapsfeeste, met jaarliks sowat 15 000 besoekers wat saamkom.
Van die nuutste landboutegnologie en -toerusting ter waarde van ongeveer R60 miljoen word uitgestal, wat jonk en oud se belangstelling prikkel.
Hoewel landbou ‘n belangrike pilaar van die fees bly, strek die aantrekkingskrag veel verder.
Hoogtepunte sluit verhoogoptredes deur van die land se voorste kunstenaars in. Vanjaar sal Rikus Nel, Demi-Lee, Bobby van Jaarsveld, Juan Boucher, Die Piesangskille en Sunset Sweatshop op die verhoog wees.
Die program sluit ook ‘n wye reeks kompetisies in, waaronder dié vir potjiekos, sterkman-kragmetings, woldra, slaglammers, boeresport, bulletjie-rugby en netbal. Hengel, gholf en ‘n marathon sal ook plaasvind. Deelnemers kan uitsien na strawwe kompetisie en groot pryse.
Vir die jongspan is daar geen tekort aan vermaak nie.
Kinders kan diere van naderby ontmoet, op kamele en in stampkarre ry, skatte soek, die pretpark geniet en aan talle ander aktiwiteite deelneem.
Van die kuiertent en kosstalletjies, tot uiteenlopende uitstallers en interessante stalletjies – waar alles van kamp- en jagtoerusting tot pannekoek, parfuum, juweliersware en unieke uitrustings te koop is – dra elke deelnemer by tot die lewendige atmosfeer wat die VKB Bieliemieliefees so besonders maak.
Feesgangers word aangemoedig om reeds nou die naweek van 26 tot 28 Februarie in hul dagboeke aan te teken en betyds verblyf te bespreek, aangesien dit baie moeilik is om Reitz te verlaat terwyl die fees nog in volle gang is.
Die organiseerders het aangekondig dat, in die lig van die wydverspreide voorkoms en invloed van bek-en-klouseer, die bees- en kleinvee-afdelings wat tradisioneel deel van die fees is, vir 2026 afgestel sal word.
Ondanks hierdie verlies vir vanjaar beloof die VKB Bieliemieliefees steeds ‘n onvergeetlike ervaring vol hart, gees en Vrystaatse siel.





