Die Vrystaatse landbousektor het ’n belangrike regsdeurbraak beleef nadat die Hooggeregshof in Pretoria die minister van landbou, John Steenhuisen, gelas het om ’n duidelike skema vir private inenting teen bek-en-klouseer (BKS) te finaliseer en te publiseer.
Vrystaat Landbou (VL) het die uitspraak verwelkom en dit as ’n betekenisvolle verskuiwing beskryf van die departement se vorige standpunt, waarvolgens slegs staatsbeheerde inentings toegelaat is. Die hof het bepaal dat die minister die skema teen Vrydag 17 April moet promulgeer en die saak tot 28 April uitstel.
Volgens Francois Wilken, president van VL, het die hof ook gelas dat die Minister die regskoste moet dra en skerp kritiek op vertragings en laat indiening van dokumente deur die departement van landbou uitgespreek. Die hofsaak spruit uit ’n dringende aansoek wat deur VL, Sakeliga en SAAI gebring is om te verhoed dat die regering die private verkryging en toediening van BKS-entstowwe belemmer.
Tot onlangs het die minister onder eed volgehou dat slegs staatsgekontroleerde inentings deur gemagtigde amptenare toegelaat sal word. In ’n laaste-minuut voorlegging aan die hof is daar egter ’n konsepskema ingedien wat vir die eerste keer voorsiening maak vir private inenting onder leiding van private veeartse, sonder direkte staatstoesig uit te voer.
Wilken het gesê dié skielike beleidsverskuiwing bevestig die landboubedryf se standpunt dat daar geen geldige regsgrondslag bestaan om die privaatsektor se deelname aan BKS-inenting te beperk nie en ondanks daarvan dat die voorgestelde skema as ’n stap in die regte rigting beskou word, meen VL dat dit steeds tekortkominge bevat.
Daar is veral kommer oor bepalings wat die verkryging van entstowwe sentraliseer en wye diskresionêre magte aan die minister verleen, wat bestaande probleme moontlik laat voortduur. Volgens die organisasie is dit veral kommerwekkend dat die beleidsverandering eers onder druk van litigasie plaasgevind het, terwyl boere reeds toenemende verliese ly weens die verspreiding van die siekte te ervaar.
Die hof se ingryping plaas nou duidelike wetlike verpligtinge en streng sperdatums op die minister, wat as ’n belangrike stap beskou word om groter sekerheid en stabiliteit in die veebedryf te herstel.





